Die Wellington-Moederkerk, wat reeds sedert die 1800’s soos ‘n ikoon in die dorp staan, het op 26 Julie haar 185ste bestaansjaar gevier.
Hierdie Nederduitste Gerevormeerde (NG) kerk is in 1840 as susterskerk van die Paarlse Strooidakkerk gestig en het sedert die gemeente se totstandkoming geslagte gelowiges verwelkom.
‘n Kerk vir Wamakersvallei
Volgens ds. Dawie Theron, ‘n tentmaker van dié gemeente, het twee inwoners van die omgewing, Johan de Villiers en Johannes Marais, ‘n amptelike versoek aan die NG gemeente Noorder-Paarl gerig om ‘n kerkgebou in die Wamakersvallei op te rig. Dié versoek is egter afgekeur met die motivering dat ‘n afsonderlike gemeente in Wellington nie lewensvatbaar sou wees nie.
Die versoek is in November 1837 hernu – hierdie keer met groter dringendheid weens lidmate wat gesukkel het om in die wintermaande die Bergrivier vir kerkdienste oor te steek.
Die aansoek is onder die leiding van dr. John Addey weer ingedien – dié keer met sukses ten spyte van hewige teenkanting van ds. GWA van der Lingen van die NG gemeente Noorder-Paarl, wat vandag as die Toringkerk bekendstaan.
“Ná 108 vergaderings en met 500 lidmate as begin is die kerkgebou en gemeentestigting op 27 Julie 1840 gevier,” vertel Theron, wat passievol oor die kerk se geskiedenis is.
Kerkklok lui vir verkope op markplein
Die eerste aanbouing aan die Moederkerk het die grondslag gelê vir wat vandag as die skipgedeelte bekendstaan, met die ikoniese kerkklok as die middelpunt.
In die vroeë jare het dié klok selfs as ‘n bron van inkomste gedien – boere wat hul produkte na die aangrensende markplein gebring het, kon dit gedurende die week laat lui teen ‘n fooi van ‘n sikspens, vertel Theron.
Een van die mees omstrede aangeleent- hede in die vroeë geskiedenis van die kerk was die toekenning van sitplekke. Ná ses vergaderings het die kerkraad uiteindelik ‘n amptelike “stoelreglement” aanvaar, met streng bepalings oor hoe sitplekke toegeken en gebruik moes word. Aanvanklik is 144 stoele gekoop, wat deur kerkraadslede teen £6.80 per dosyn gefinansier is, volgens Theron.
“Lidmate moes destyds jaarliks betaal om ‘n stoel te besit – hoe nader aan die preekstoel, hoe hoër die koste. Die jaarlikse fooi van vyf sjielings moes voor 5 Januarie betaal word om die plek vir die nuwe jaar te verseker. Weens die hoë aanvraag het ‘n waglys ontstaan, en sonder betaling is die plek eenvoudig aan iemand anders toegeken.”
Dié proses is as ‘n vorm van dankoffer beskou, aangesien tradisionele bankkollektes en kontantofferandes nog nie deel van eredienste was nie.
Die laaste stoele is eers in 1928 verwyder en met die banke wat vandag nog in die kerk gebruik word, vervang.
Geestelike herlewings
Gedurende die 19de eeu het die NG kerk Wellington verskeie belangrike strukturele en funksionele veranderings
ondergaan, wat nie net die groei van die gemeente weerspieël het nie, maar ook die kerk se rol as geestelike en gemeenskapsentrum versterk het, verduidelik Theron.
In 1841 is die konsistorie vergroot en dr. Kriegler het ‘n skenking vir ‘n teksaanhaling, wat vandag steeds bokant die preekstoel pryk, gegee.
Die twee syvleuels van die kerk is in 1861 aangebou – hoofsaaklik as gevolg van die geestelike herlewing van die 1860’s en die skerp toename in lidmate, wat die 1 000-kerf oorskry het.
Galerye is in 1874 by die syvleuels saam met voorportale by al drie hoofingange van die kerkgebou aangebring.
Die kerktoring is eers in 1891 opgerig en het later ‘n prominente visuele baken in die dorp geword.
Die kerkorrel is in 1893 herbou om aan die groeiende behoeftes van die gemeente te voldoen.
Die oorspronklike preekstoel is in 1895 met die huidige een vervang, sodat albei predikante tydens eredienste gesien kon word. Hierdie gebruik is egter in 1962 gestaak.





