Newton het Saterdag weer eens bewys waarom spanne hulle vrees nadat hulle ook met die Wellington-rugbyklub afgereken het.
Wellington het probeer om Newton te ontsenu met klipharde inklimspel en opskiet-verdediging. Dit het aan die begin gewerk omdat veral die Wellington-voorspelers die Newton-voorspelers se gal behoorlik gewerk het. Hanteerfoute het egter gehelp dat Newton die telbord aan die gang hou.
Die inspirerende Colin April het weer eens die telling met ’n kenmerkende kraglopie geopen. Kort hierna het Ryan Jordaan (senter) met een van sy vele dartellopies agter die pale gaan kuier en die telling was skielik 12-0.
Wilfred Bowers (losskakel) het die verdediging voor rustyd soos ’n warm mes deur botter oopgeskeur en die manne kon rustyd gaan geniet met Newton 17-3 voor.
Ná rustyd het Wilfred Bowers ’n skepskop oorgeklits en Collin April het weer sy klas gewys en die verdedigers laat stilstaan. Wellington het moedig met twee drieë probeer, maar moes boedel oorgee toe Shane-Cole Williams die doellyn met brute krag oorgesteek het. Die telling en uiteindelik die eindtelling was skielik 39-15 in Newton se guns.. Hierdie naweek is dit ’n maak-of-breek-tryd wanneer die Newton Bombelas die Boland-finaliste Bella Vista (Ceres) aanpak. ’n Titaniese stryd word verwag omdat die wenner sy plek in die top-12 uitspele kan verseker.
Newton-toeskouers gaan Ceres op die Bella Vista-sportterrein blou verf. Die wedstryd beloof om een vir die fynproewer te wees omdat albei spanne daarvan hou om die bal lug te gee. Hier kom groot drama!




