Newton RVK moes die afgelope naweek hard werk vir ’n oorwinning teen Temperance RVK.
Newton het Saterdag 12 Februarie gasheer gespeel vir die manne van Gouda voor meer as negehonderd toeskouers op Newton Park in Wellington.
Die tuisspan het die wedstryd met 27-17 gewen, nadat hul eerste punte in die vorm van ’n strafskop deur Theo Marinus eers ná twintig minute in die eerste helfte gekom het. Bombelas het aanval na aanval van stapel gestuur en uiteindelik het Keaton Booysen die span van Newton se eerste drie gaan druk, ná goeie werk deur die voor- en agterspelers.
Die veteraan Wayne Davids het ook vir die tuisspan oorgegaan vir ’n drie, en dit het begin lyk of dit ’n lang agtermiddag gaan wees vir Temperance, maar die manne van Gouda het geantwoord met ’n drie deur Euan Titus verdoel deur Jenesco Pieters.
Newton het egter van rat verwissel, ’n breukslag deur die losskakel Theo het gesorg vir Keaton se tweede drie, verdoel deur Irvin Williams.
Hanteerfoute, aangeë wat verlore gegaan het, was ’n bron van kommer vir albei spanne se afrigters. Met die aanbreek van rustyd het Newton welverdiend met 20-7 voorgeloop.
Temperance moet geprys word vir hul hardnekkige verdediging en veggees, veral hul agsteman Cheslyn Korasie en voorry Benicio Kamfer was goed met die bal in die hand, ook die jong agterlyn met losskakel Albert Billings en senter Euan Titus aan die spits, het hul vaardighede en spoed ten toon gestel. Irvin Williams, Veni Dakana en CJ van Wyk het vir Newton RVK uitgeblink. Laat in die tweede helfte het Marinus van Newton ’n verdoelde drie aangeteken, waarop die manne van Gouda onmiddellik met twee onverdoelde drieë geantwoord het.
Puntemakers:
Newton 27. Drieë: Keaton Booysen (2), Wayne Davids, Theo Marinus. Doelskoppe: Irvin Williams, Theo Marinus. Strafskoppe; Marinus.
Temperance 17. Drieë: Albert Billings, Euan Titus, Jenesco Pieters. Doelskoppe: Pieters.
Ander uitslae:
Wesbank 17 – Roses United 29Abbotsdale 5 – Hillcrest 17Evergreens Paarl 10 – Young Peoples 26Villigars Newton 36 – Wamakersvallei 33.





