Newton het sy onoorwonne status behou deur ’n omgekrapte Hillcrest-rugbyklub in ’n klipharde derby-stryd op Bombela-park met die kous oor die kop huis toe te stuur. Beide spanne was voor die wedstryd nog onoorwonne.
Met ’n volgepakte stadion het die wedstryd teen ’n baie hoë tempo begin en die skare was nie teleurgesteld met die hoëgehalte-rugby wat opgelewer is nie.
Hillcrest het eerste bloed geruik en het met twee kragtige drieë deur sy agtal die Newton-voorspelers in die grond gedryf en met aggressiewe inklimspel oorgebars vir ’n voorsprong van 12-0.
Newton moes diep delf om terug te kom in die wedstryd en het met stewige skrumwerk wel sy weg terug gevind.
Die ommeswaai het diep in die Newton se kwartgebied begin toe sy glibberige heelagter, Ryan “Katjies” Jordaan, met ’n teenaanval begin en die vlakhaas Keaton Booysen (vleuel) in besit gestel het. Booysen het vir die hele Hillcrest hakskene gewys om in die hoekie af te rond.
Kort hierna het die Newton-voorspelers begin oorheers en Hillcrest behoorlik in die skrums laat kreun.
Austen de Bruyn (slot) het met brute krag oorgebars vir ’n drie. Die immer teenwoordige bul-senter Shane-Cole Williams het kort hierna sy klas gewys en ook agter die doellyn gaan kuier.
Die spanne het met Newton in die voortou met 15-12 gaan water drink.
Hillcrest het onmiddellik sy bomb squad opgebring, maar dit was tevergeefs. Ryan Jordaan (heelagter) het sy teenstanders gepypkan en met die grootste finesse agter die doellyn gaan kuier. Die telling was skielik 22-12.
Hillcrest was nou desperaat om punte aan te teken, maar kon nie by Newton se tempo hou nie.
Die drie van die dag was toe een van die Hillcrest-aanvallers vir Jayden van Wyk (vleuel) wou omhardloop. Van Wyk het egter die bal uit sy teenstander se hande gegaps en sy kaptein, Collin April (nr. 8), in besit gestel om die drie af te rond. Dit het die Bombela-ondersteuners behoorlik laat kraai van lekkerte, terwyl die Hillcrest-ondersteuners met die uitslag van 29-19 moes vrede maak.
. Ander uitslae: Hillcrest 8-3 Newton 2de span; Hillcrest 12-7 Newton 3de span.
Saterdag speel Newton se Bombela’s weg teen ’n erg omgekrapte Delicious (Ceres) nadat Delicious weer vasgeval het. Bombela-ondersteuners word gevra om in getalle op te ruk om Ceres te gaan blou verf.





