Slegs drie politieke partye het Maandag ten gunste van die 2022-’23-begroting en verhoogde tariewe gestem; al die ander partye was nie gelukkig daarmee nie.
Die ANC, onder andere, het teen die begroting gestem.
Moutie Richards, ’n raadslid en leier van die ANC in die Drakenstein, het hul teleurstelling uitgespreek in wat hulle “die onprofessionele en onstaatsmanlike” wyse waarop Conrad Poole sy “begrotingstoespraak” aan die inwoners van Drakenstein aangebied het, noem.
Die ANC sê ook dit was onder dié burgemeester se toesig en leiding dat die Drakenstein-munisipaliteit onder groot skuld van sowat R1,6 miljard geplaas is en wat hulle nou sukkel om terug te betaal.
“Terwyl die burgemeester spog dat hy die geld iewers in Paarl-Suid begrawe het, het hy nie gedink om van daardie geld te gebruik om die woonstelle in Klein Nederburg op te knap nie, wat dringende herstelwerk aan die dakke en trappe benodig, soos in sy Gop vermeld.”
Boonop word nie genoeg huise gebou om die lang waglys te verminder nie. Terwyl boere aanhou om plaaswerkers uit te sit, versuim die munisipaliteit om behuising naby die werkplek te verskaf en gaan hy voort om die plaasmense uit hul geboorteplek te ontwortel.
“Terwyl die DA-munisipaliteit die rykes beloon deur nie eiendomsbelasting te verhoog nie, sal hulle die armes en reeds lydende begunstigdes van die nasionale regering se toelae vir hulpbehoewendes straf. Pensioentrekkers wat vir ’n deernis-subsidie vir eiendomsbelasting kwalifiseer, sal weer ’n ekstra verhoging in hul munisipale rekening in die gesig staar.
“Behoeftiges sal verder gestraf word met ’n vermindering in die gratis elektrisiteitseenhede wat hulle maandeliks ontvang.
“Ons het ook die hoër-as-inflasie-styging in munisipale tariewe wat Drakenstein-belastingbetalers van 1 Julie af moet betaal.”
André Fourie (VF Plus-raadslid) het namens sy party gesê alles dui op die verswakking van die ekonomie terwyl “die DM voortgaan asof Rome nie hier brand nie”.
Hy het gesê ondanks die feit dat eiendomsbelasting nie verhoog word nie, is die massiewe waardasieverhoging van 19% verlede jaar steeds ’n skok, en geen verdere verligting word vir die volgende vier jaar verwag nie.
Hy het ook melding daarvan gemaak dat al die ander tariefverhogings steeds hoër as die inflasiesyfer van 2021 is.
Die VF Plus bly ook bekommerd oor die mildelike aanstel van konsultante en kontrakteurs in die lig van genoeg hoëgehalte-amptenare wat sekerlik bekwaam genoeg is om self baie van die funksies te vervul teen die salarisse wat hulle verdien.




