Hoewel sewe dubbelverdieping-wooneenhede in Vlakkeland afgebrand het, sê die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings hulle is net van twee brande hiér in kennis gestel.
Inwoners vermoed die brande breek uit as gevolg van moontlik foutiewe elektriese stelsels in die wonings.
Nathan Adriaanse, ’n woordvoerder van die departement, het bevestig dat hulle die Vlakkeland-behuisingsprojek geïnisieer het. Altesaam 331 huise is al aan inwoners van Drakenstein oorhandig. Die laaste begunstigdes het in Desember 2020 ingetrek.
In verband met die brande wat so uitbreek, sê Adriaanse, is net twee brande by die departement se projekbestuurders aangemeld.
“Hierdie voorvalle het in Januarie 2021 en in Februarie vanjaar [plaasgevind]. In albei hierdie voorvalle het die departement se projekbestuurders die oorsaak van die brande gaan inspekteer en ondersoek.”
In hul ondersoek, volgens die projekbestuurders, het hulle gevind dat een van die begunstigdes “ ’n ekstra[krag-] prop in die klein slaapkamer gekoppel het en hy het dit gedoen deur ’n onwettige verbinding te gebruik wat in die dak verbind was sonder dat ’n koppelstuk gebruik is”.
Adriaanse sê die waarskynlikheid dat so ’n verbinding warm word en vlam vat, is baie groot en dit was die oorsaak van een van die brande.
In die tweede brand waarvan die departement weet, het ’n elektriese toestel van die begunstigde aan die brand geraak terwyl dit aan ’n kragprop gekoppel was.
“Die provinsiale departement van menslike nedersettings kan bevestig dat al die elektrifisering van die huise in die Vlakkeland-behuisingsprojek deur ’n professionele elektrisiën gedoen word, wat vereis word om ná die voltooiing van bedrading en toetsing ’n sertifikaat van voldoening aan die munisipaliteit te lewer voordat die elektrisiteit aangeskakel kan word,” het Adriaanse in sy terugvoering gesê.
Volgens Adriaanse skop inwoners se krag uit as gevolg van oorlading. Die munisipaliteit verskaf ook net 20 ampère elektrisiteit aan inwoners van Vlakkeland. Dit beteken dat elektriese toestelle soos ’n vierplaatstoof, ’n tweeplaatstoof, ketel, yskas, warmwatertoestel en wasmasjien nie alles op een slag saam gebruik kan word nie.
“Daar is aanbeveel dat die begunstigdes net drie toestelle gelyktydig moet gebruik. Om hierdie saak op te los, moet ’n begunstigde die Drakenstein-munisipaliteit se elektriese departement besoek en hulle sal bygestaan word oor hoe om aansoek te doen vir die hoër ampère elektrisiteit wat van 30 ampère en hoër begin. Op die 30 ampère kan jy soveel toestelle koppel en gebruik as wat jy wil, maar die elektrisiteitstarief is baie hoër as die 20 ampère.”
Om enige brande te verhoed, stel die departement aan inwoners van Vlakkeland voor dat hulle nie onwettige verbindings maak nie; ’n professionele elektrisiën gebruik om elektriese werk te doen; dat hulle nie die 20 ampère-stelsel oorlaai nie; en indien nodig, moet begunstigdes dit oorweeg om na 30 ampère op te gradeer.
Intussen het inwoners van Vlakkeland ook ’n kennisgewing van die munisipaliteit ontvang rakende onwettige aanbouings en onwettige elektrisiteitkonneksies wat nie toegelaat sal word nie.. Although seven double-storey residential units in Vlakkeland have caught fire and burned down, the Western Cape Department of Human Settlements say they have only been notified of two fires in the area.




