Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die verkoues en griep ’n mens beetkry. So, mensie, trek maar daai bitter mengsels en immuunopkikkers nader.
Vir my voel dit nadat die pandemie ons getref het, is baie mense se immuunstelsels in hul glory!
In die eerste drie maande van die jaar was ek reeds twee keer siek en op sterk antibiotika.
Ek lees nou die dag die departement van gesondheid sê die virusse wat respiratoriese infeksies en siektes veroorsaak, se vlakke is reeds baie hoog, terwyl Covid-19 redelik laag is.
Maak nie saak wat die “vlakke” is nie – kyk na jou gesondheid, veral omdat dit voel asof die jaar baie van ons al getakel het. Dit voel so asof ons al aan die einde van die jaar moet wees. Die moegheid is onnatuurlik.
Laat ons na onsself omsien, ons gesondheid veral, en dankbaar wees.




