Ek het my menigmaal hartlik vervies vir Dries toe hy, met toename in jare, dikwels gesê het: “Hoe ouer ek word, hoe dommer word ek”. Is ek toe nog ver van oud af en kon glad nie verstaan hoedat dit moontlik is nie. Hy, met al die lewenservaring, versamelde kennis en kundigheid, asook wysheid? Was ook nie asof hy saam met oudword nie meer all dêr was nie, soos skoonpa in sy Boesmanlandse Engels gesê het van iemand wie se kop nie meer reg gefunksioneer het nie.

Is ek mos ’n stadige leerder en dus aansienlik ouer as wat Dries was toe hy die “dommer soos ek ouer word”-ding ervaar het. Soos dit met hom was, is dit nou met my wanneer ek die gekheid en absurditeit van die mensdom aanskou; dit wat so gemaklik en ongekompliseerd daagliks onder jou neus gevrywe word. Maak nie saak watter nuuskanaal jy kyk of koerant jy lees of radionuus jy luister nie; Iewers is altyd iemand wat ’n beter en meer sensasionele berig die wêreld in stuur. Die mees bisarre goed wat mense doen, en moeite maak om dit globaal bekend te maak, is alles teenstrydig met wat ek geleer het reg en verkeerd en betaamlik is.

Dis dié tye wat ek voel ek word dommer soos die jare toeneem. Moet mense afskuwelike goed teenoor hulself en hul naastes pleeg en dikwels diere ook gebruik en dan moeite maak dat dit in die nuus kom? Is dit bedoel dat tienduisende daarop moet afpyl en op die vieslikhede voed wat opgedis word, soos aasvoëls op karkasse? Is daar iemand wat geld maak uit al die bisarre nuusberigte?

Ek weet nie of dit die sensuurraad onder die ou bedeling was wat op ’n onverklaarbare manier die volk se morele kompas soort van reg gehou het nie. In die destydse sensuur-wetgewing was wel baie absurditeite ingeskryf, maar oor die algemeen is mense tog gevrywaar van aaklige immorele vergrype en verwoesting van hul eie en ander se lewe en die gemaklike afbreek van volkswaardes?

Of was dit net ’n papierdun lagie of bedekking wat ’n vuil en immorele volkshart onderdruk het met behulp van ’n geskrewe wet en instansies om vergrype te straf? Dit wat ons dan gesien en mee saamgeleef het, was dit net ’n kwasi-ordentlikheid wat nie anders kon as om op ’n gegewe oomblik te ontplof en die hele land te besoedel nie?

Met dié dat ’n spul kort voor die oorgangsregering reeds begin skree het vir die reg om self te besluit wat hulle wil sê en sien en hoor en lees en doen met hul liggame en lewe, volgens hul eie begeertes, het die eerste krake gekom. Dit was toe dat die mure van die kamtige ordentlikheid al meer begin verbrokkel en heeltemal inmekaar gestort het, nadat die sensuurraad ook ’n slagoffer van die ANC geword het. Was die boustene van ons volkshuis hoeka van kaf en klei en daarom lyk dit nou so?

Natuurlik hoef ek nie te lees, te sien te hoor of luister na dit wat rondom my gebeur nie, maar is dit nie volstruispolitiek soos wat Die Groot Buffel nou weer toepas in die Phala Phala- en Eskom-werklikhede nie? So soort van: Moenie aandag daaraan gee nie of daaroor praat nie, want dan sal dit stil en ongemerk verbygaan.

My wyse pa het gesê: “Onthou, jy sal baie kere spyt wees omdat jy te veel gesê het, maar ook dikwels omdat jy te min gesê het.” Dus maak ek ’n punt daarvan om met my kinders, almal 50-plussers, asook hulle vriende en my kleinkinders, almal volwassenes al, oor die goed te praat. Hulle reken die mensdom is siek en soek oral, behalwe op die regte plek, vervulling in hul lewe. Ek is dus dankbaar dat die mense met wie ek my omring, besef dat mens nie kan lewe volgens die spreuk “If ignorance is bliss, it’s folly to be wise” nie. ’n Mens moet weet wat rondom jou aangaan. Die wêreld beweeg vorentoe, al is dit agteruitgang op vele vlakke en is dit nie soos ons dit ken en reken dit moet wees nie. Dis die enigste manier hoedat jy jouself kan posisioneer om nie ongemerk verswelg te raak in die gemors rondom jou nie.

Laat ek dan maar dommer word soos ek ouer word, omdat ek nie verstaan hoekom ’n egpaar twee tuisgemaakte guillotines gebruik om hulself te onthoof as rituele offer aan ’n afgod nie. Of hoekom dr. Magudumana met misdadigers saamspan of wat gebeur het dat Harry en Meghan nie meer all dêr is nie. Dit is nie belangrik om my salige hiernamaals te verseker nie. Gruweldade en vieslikhede is altyd gemik teen die menslike liggaam of tot algemene nadeel van ’n persoon. Die oorsprong daarvan is ’n berekende gedagte. Dit is dus wys om te waak wat jy in jou hart koester en onthou, die menslike liggaam is duur gekoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article