Quade Matjan van Hoërskool Gimnasium Paarl in aksie op die atletiekbaan. Foto: Ernest Kilowan

Die 100 m-naelloper van Hoërskool Paarl Gimnasium, Quade Matjan, sal die naweek sy alles wil gee om op die sukses wat hy reeds by ‘n onlangse skoleatletiek-kampioenskap einde Maart behaal het, voort te bou.

Dit nadat hy as die tweede vinnigste atleet oor 100m in Suid-Afrika gekroon is. In ‘n naelbyt-wedloop wat vir die eerste 80 m gelyk het asof goud syne sou wees, moes Matjan uiteindelik tevrede wees met silwer nadat die wedloop gewen is deur mede-Bolander Marlon Kayster (Hoërskool Porterville) in ‘n tyd van 10,31 sek.

Matjan se indrukwekkende tyd van 10.40 sekondes plaas hom tans vyfde op die wêreldranglys oor 100 m – ‘n merkwaardige prestasie vir ‘n atleet wat eers onlangs ernstig begin oefen het. Wat sy prestasie nog meer besonders maak, is die feit dat Matjan eers in die Desember-skoolvakansie besluit het om atletiek voltyds aan te pak. Hy het hom toe aangesluit by Jacques Bothma se Believe Sport Ministries-akademie, waar sy talent vinnig begin blom het onder die leiding van afrigter Reagen Julies. Benewens sy individuele sukses, het Matjan ook saam met sy spanmaats die o.18 4×100 m-aflos gewen. Hulle rekordtyd van 40.71 sekondes is tans die vinnigste in die wêreld.

Matjan is geen vreemdeling tot medaljes nie. Reeds in 2024 het hy ‘n bronsmedalje in die o.16-verspring by die kampioenskappe verower onder afrigting van Erhard Kilowan. Volgens sy huidige afrigter, Reagen Julies, was Matjan se potensiaal lank reeds duidelik. “Ek wou hom nog van kleins af afrig. Toe ek terugkeer uit Dubai en die geleentheid kry by Paarl Gimnasium, het ek geweet hy is ‘n atleet wat met die regte bestuur ‘n medalje kan wen,” sê Julies. Hy voeg by dat hulle strategies besluit het om verspring te laat vaar weens vorige beserings, en eerder op die 100m en 200m te fokus. “Hy het só goed in die 200m gevaar dat ons dit selfs oorweeg het om hom daarin te laat deelneem,” het Julies gesê.

Matjan self bly nederig oor sy prestasies en skryf sy sukses toe aan geloof en ondersteuning. “Alles is deur God se genade,” sê hy. “Ek is ook bevoorreg om ‘n afrigter soos Reagen Julies te hê, asook om by ‘n skool soos Paarl Gimnasium te wees met uitstekende fasiliteite.” Hy het verder erkenning gegee aan verskeie rolspelers wat hom ondersteun, insluitend die skool se bestuur en ondersteuningsnetwerk. Ten spyte van sy atletieksukses, bly rugby steeds sy eerste liefde. “Rugby is nog my eerste keuse,” sê hy laggend, “maar wat nou gebeur laat my kop krap.”

Matjan se fokus is nou by die Atletiek Suid-Afrika (ASA) senior baan- en veldkampioenskappe wat 16 tot 18 April op Coetzenburg geskied, waar hy moontlik teen wêreldklas-atlete te staan sal kom. Volgens Julies gaan hulle egter nie bloot deelneem nie: “Ons gaan kompeteer.”

Met sy vinnige opgang en onmiskenbare talent, lyk dit asof Quade Matjan ‘n naam is wat Suid-Afrika – en die wêreld – nog lank gaan onthou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article