Dit is ons almal se plig om ons demokratiese reg te gebruik en aan die einde van die maand ons stemme met ’n kruisie aan te dui.
En tans loop stemkoors hoog met al wat ’n politieke party is wat hul speletjies speel om stemme te probeer werf asook om hul teenstanders te probeer diskrediteer.
Maar, as ek so verby ’n lamppaal stap wat ontsier is met ’n klomp verkiesingsplakkate, dan raak ek sommer naar oor hierdie spel en die spul skelm politici.
Ek sê skelm, want hulle is in elk geval net in die wedloop vir die geld wat hulle op die ou einde betaal sal word indien hulle wel ingestem sou word.
Kyk maar na die meeste raadslede in ons vallei – hoeveel van hulle gee nou juis ’n duit om vir die inwoners van hul buurte?
Dit is tans op een manier verblydend om te sien dat ons buurte so skielik skoongemaak word – parkies word netjies gemaak, onkruid uitgetrek en slaggate opgevul.
Maar dan weer gaan dit baie ontstellend wees wanneer die verkiesing verby is en dan keer als weer terug na normaal hier in die Paarl, met vullis oral, sypaadjies oorgroei met onkruid en gate in die pad wat nie herstel word nie.
Want als is mos net tans ’n oëverblindery en politiekery.




