Ná amper 60 jaar se getroude lewe is David en Valerie Basson nog dolgelukkig en verlief. Foto: Jana Scheepers

Credit: SYSTEM

Dit was liefde met die eerste oogopslag vir David (88) en Valerie Basson (84) van die Paarl, wat in Maart vanjaar ’n volle 60 jaar se getroude lewe vier.

Dié egpaar het mekaar per toeval in 1957 by ’n konsert in De Aar raakgeloop, waar Mimi Coertse opgetree het.

Hoewel onmiddellike vonke tussen die twee gespat het, het hul paaie eers ná drie jaar weer gekruis toe David na De Aar verhuis het nadat hy ’n onderwyspos daar aanvaar het.

David en Valerie het mekaar toe weer in die dorp raakgeloop, waarna hulle mekaar dadelik herken het.

“Waar woon jy?” het David toe aan sy toekomstige vrou gevra.

“En hoekom nooi jy my nie vir koffie nie?” wou hy weet.

Van daardie dag af het die twee net oë vir mekaar gehad.

David en Valerie se liefdesverhaal is weer beproef toe David weens werk na Beaufort-Wes moes verhuis en die twee het toe stelselmatig kontak verloor weens die ellelange afstand tussen die twee dorpe.

Nietemin het David steeds skelm kontak met Valerie se pa gehou, wat uiteindelik gesorg het dat die twee die knoop op 28 Maart 1964 deurhaak.

Volgens David het hy en sy skoonpa goed oor die weg gekom, en dit is dié dat hy seker gemaak het die twee kom weer bymekaar uit.

Ons eerste kind is nege maande en drie dae ná ons troue gebore.
Valerie Basson

“Ons eerste kind is nege maande en drie dae ná ons troue gebore,” het Valerie met ’n stoute glimlag aan die Paarl Post vertel.

Die jare wat gevolg het, het groot opwinding opgelewer toe die Basson-egpaar die lewe saam met twee kinders in hul boesem trotseer het.

In die gees van Valentynsdag wat binnekort aanbreek, het die Basson-egpaar aan ander verliefdes, verloofdes en getroudes gesê die suksesvolle resep vir ’n lang en gelukkige lewe saam is om ”maats te wees,” mekaar te vertrou en “vryheid” te gee.

’n Mens moenie ingeperk voel in ’n verhouding nie.
David Basson

“’n Mens moenie ingeperk voel in ’n verhouding nie,” het David gesê.

Nóg ’n belangrike bestanddeel wat sal sorg vir ’n “flop”-vrye verhouding, is om sáám die Here te dien, sê Valerie.

Die lewe het behoorlik draaie met die Basson’s geloop en hulle van De Aar na Beaufort-Wes al die pad tot in Oudtshoorn en Kimberley asook na Worcester en Hermon geneem.

Hul vlugtige tyd in Hermon, waar David ’n laerskoolhoof was en Valerie aktief in die gemeenskap betrokke was, is ’n tyd in hul lewe wat uitstaan as ’n hoogtepunt.

Dit het hul hunkering om terug te keer na die Wynland verdiep.

Die egpaar het uiteindelik in 2002 ’n huis in Groenleegte in die Paarl gekoop en daarna na Huis Vergenoeg verhuis, waar hulle reeds sewe jaar woon.

David het in Porterville grootgeword en Valerie in Namibië, en buiten hul twee kinders spog hulle ook met twee kleinkinders.

Hul oudste kleinkind trou op 30 Maart terwyl hul skoondogter ook daardie selfde week verjaar. Dus sien hulle baie uit na ’n huweliksherdenking wat gevul gaan word met ’n klomp ander feesvieringe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article