Die minister van polisie, Bheki Cele, het vandeesweek weer skokkende statistieke oor misdaad bekend gemaak.

Hieronder was die feit dat in net een week 100 moorde in die Wes-Kaap was. Dit is volgens amptelike syfers, maar hierdie syfer kan selfs hoër wees. Hier in die Drakenstein-vallei is dit ook nie vreemd dat verskeie moorde oor veral naweke plaasvind nie.

Dan gaan die beleërde, gehoede minister verder voort deur te sê niemand in die hoër geledere van die polisie is verantwoordelik vir misdaad nie – dit sluit seker die agbare minister ook in, of só dink hy.

Ons verskil egter. Die ou gesegde lui mos: ’n Vis vrot van sy kop af ondertoe.

En dit is so waar wanneer dit by die onbeholpe bestuur van ons polisiediens kom, met Cele die voorbok.

Sy gedrag en minagting vir die gemeenskap wat ’n daaglikse stryd teen misdaad voer, is skokkend, en hierdie sluit sy buffelagtige taktiek in.

Die parlement het hierdie week bevind Cele is skuldig aan oortreding van hul gedragskode ná sy dreigende houding asook sy gillende woorde “shut-up” aan ’n aktivis by ’n misdaad-imbizo.

Ook om te wys hoe Cele die septer by die polisie swaai, is die feit dat hy onlangs aangekondig het dat meer as7 000 polisiebeamptes die afgelope vyf jaar in hegtenis geneem is vir misdade wat moord, ontvoering, verkragting en transitorooftogte insluit.

Dit spreek vanself oor die vrotheid wat van bo tot op voetsoolvlak by ons polisiediens ingesypel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article