As iemand my ooit sou vra wie of wat bring my die grootste vreugde in die lewe, sal my antwoord altyd wees: my liefste seuntjie, Cee-Jay. Jy is ’n bewys van alles wat goed en mooi is wat uit my hart spruit.
Hierdie week vier jy jou derde verjaarsdag en vir my is dit ’n groot mylpaal. Ek is verskriklik opgewonde asof dit my eie verjaarsdag is. Die dag toe ek en jou pa jou van die hospitaal af bring, het ons nie geweet watter uitdagings ons inwag nie, maar vir jou sal ons dit oor en oor doen. Waar gaan die tyd heen? Een oomblik is jy nog hierdie klein mensie wat opkrul teen my wanneer ek jou moet borsvoed, en vandag krul jy op teen my om my van die bed af te lê. Die dae is waarlik lank en die jare kort, en ek sien daarna uit om elke jaar vorentoe saam met jou te koester.
Van die begin af toe ek besef nog ’n lewe is besig om in my te groei, het ek ’n opgewondenheid, dog ook ’n angstigheid, in my maag gevoel – angstig omdat ek nie geweet het wat om te verwag en of ek ooit goed genoeg vir hierdie lewenslange taak sal wees nie. Deur die seisoen van swangerskap, wat gevoel het asof dit nooit gaan eindig nie, was my eerste instink om jou altyd te beskerm – vandag nog. ’n Liefde soos hierdie het ek nog nooit ervaar nie – so lig en so natuurlik; ’n liefde wat niks in ruil wil hê nie. Ek was altyd aan die ontvangkant van ’n ma se liefde, maar nou kan ek ’n ma se liefde gee. Dis iets wat nie beskryf kan word nie, maar wat my hele wese laat ineenkrimp – waarlik ’n voorreg.
Ek dink terug na die dag – drie jaar gelede – toe jy jou verskyning gemaak het. Vooraf het ek altyd gewonder hoe ek as ma veronderstel is om te reageer as ek jou die eerste keer sien en hoor. Maar niks kon my regtig voorberei het vir daardie oomblik nie. Toe ek die eerste geskree hoor wat jy deur die teater gestuur het, het ek net gevoel hoe die warm trane uit my oë oor my wange rol. Ek het selfs effe geskrik, want dit is glad nie wat ek verwag het nie. Die plan was nie om te huil nie, maar my liggaam het jou herken en net reageer op die grootste vreugde wat ek al in my lewe ervaar het.
Jy herinner my aan my sterk punte – alles waartoe ek in staat is – en die dinge wat ek oorkom het, wat ek nooit gedink het ek sou baasraak nie. Jou bestaan is vir my die ware betekenis van Psalm 16:6, wat sê: “ ’n Pragtige deel is my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” Mamma is baie lief vir jou net soos jy is, my noekoes. Wanneer jy skaterlag en nóg meer wanneer jy hardegat trek, ’n vloermoer uitpak en die wêreld jou beskou as moeilik; ook wanneer jy uit frustrasie, omdat jy nie jou sin kan kry nie, jou regterbeentjie styf trek en rondskop. Deur hierdie oomblikke lag ek stilletjies terwyl ek die Here vra dat my geduld nooit sal opraak nie. Ek glo die beste manier om vir iemand te wys hoe lief jy vir hulle is, is om geduldig te wees.
My grootste wens vir jou is om getrou te bly aan jouself en die mens wat jy geskape is om te wees. Dit maak nie saak hoe die wêreld om jou verander nie – bly net jy.
Elke dag verstom jy my met jou intelligensie – die goed wat jy doen en die goed wat jy praat. Jy is baie oplettend. Mag jy aanhou vriendelik bly en mense met entoesiasme groet – al is dit drie keer agtermekaar. Mag jou hinkepink danspassies nooit opraak nie; mag jy altyd daai lang gebed voor etenstyd bid wanneer almal rasend honger is; mag jy ons nog meer vreugde bring met jou dramatiese uitdrukkings; mag ons saam die lewe aanpak, elke dag op soek na ’n avontuur; mag jou nuuskierigheid en waaghalsigheid elke dag groei; mag jy staande bly en nooit terugstaan vir iets of iemand nie; mag respek en liefde jou altyd bybly.
Maar, bowenal, mag jy altyd weet dat jy geliefd is en dat jy waardeer word.





