“Sy was ’n ma wat die grootste liefde vir haar kinders gehad het. Die liefde wat sy vir daai kind gehad het, was buitengewoon; sy het alles vir hom gedoen.”
So lui die huldeblyk aan Zoriea “Môtjee” Baker (57) wat vriende en familielede verlede Woensdagaand by haar begrafnis in Voorstraat gelewer het.
Baker is vroeër die dag na bewering wreedaardig deur haar seun, Riyaad (28), in hul huis in St. Georgestraat aangeval. Volgens familie en ooggetuies wat op die toneel was, was ’n grusame toneel die oorblyfsels van dié liefdevolle ma se lewe.
’n Polisiewoordvoerder, AO Nceba Vanqa, sê die moord word ondersoek.
Baker se buurvrou het die Wellington-polisie om 11:10 na die toneel ontbied. Sy het in die oproep beweer die slagoffer is deur haar seun vermoor.
“Toe die polisie die huis in St. Georgestraat binnegaan, het hulle die slagoffer in ’n plas bloed op die badkamervloer gevind, terwyl die seun in sy kamer op die bed gesit het. Talle oop wonde was aan die vrou se kop en aan haar arms te sien.”
’n Betroubare bron het aan Paarl Post bevestig haar oë is met ’n skerp voorwerp gesteek.
’n Lykskouing is dieselfde dag gehou sodat die slagoffer se oorskot volgens Moslem-geloof dieselfde dag begrawe kon word.
“Die polisie het op ’n graaf en ’n houtpaal in die badkamer as moontlike bewysstukke op die toneel beslag gelê.”
Riyaad Baker is op die toneel in hegtenis geneem en het Vrydag in die Wellington-landdroshof verskyn.
Zoriea en haar seun het alleen in die huis in Vanwyksvlei gewoon.
Nceba sê die plaaslike polisie is al telkemale na die adres ontbied weens klagtes van huismoles, onmin en dreigemente.
“Die seun het ’n lang geskiedenis van geestesversteuring en dwelmverslawing en is al talle kere in die Paarl- psigiatriese hospitaal opgeneem.”
Kol. Johan Barkhuizen, die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, sê die polisie het op talle klagtes gereageer, maar geen amptelike sake is ooit aanhangig gemaak nie.
Hy sê die seun is elke keer nadat hy in die psigiatriese hospitaal opgeneem is, net weer ontslaan. “Dis ’n kwessie van hy word elke keer gestabiliseer, medikasie voorgeskryf en ontslaan na ’n omgewing waar hy nie noodwendig gemonitor word om sy voorgeskrewe behandeling getrou te volg nie.”
Barkhuizen sê die verdagte sal weer Vrydag (8 Julie) in die hof verskyn.
“Hy word tans in die Allandale-gevangenis aangehou.
“Afhangend van wat die hof voorskryf, sal hy moontlik verdere psigiatriese evaluerings moet ondergaan.”
Zoriea word deur nog ’n seun en ’n dogter oorleef.. Gesinstragedies in die vallei neem toe nadat ’n 82-jarige ouma na bewering Donderdag deur haar kleinseun op ’n plaas in Slentpad, Paarl, doodgesteek is.
’n Paarl-polisiebeampte sê die voorval het gevolg nadat konflik om 15:00 in die huis ontstaan het toe die 40-jarige verdagte glo sy ouma uit die huis gesleep het.
“Die verdagte het die slagoffer talle kere gesteek voordat hy van die toneel af gevlug het.
“Hy is kort daarna op die plaas opgespoor en in hegtenis geneem.”
- Family tragedies plagued the valley last week following the murder of two maternal figures allegedly at the hands of their own kin.





