Die 14de kykNET-Fiëstas, wat die uitsonderlike prestasies vereer in die uitvoerende kunste wat in die voorafgaande jaar by die ses vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste te sien was – Innibos, KKNK, Momentum Beleggings Aardklop, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en die Toyota US Woordfees – is pas aangekondig en ’n Paarliet is onder die bekendes wat vanjaar toekennings ontvang het.
Veronique Jephtas het saam met Lynthia Julius die afdeling vir beste nuutgeskepte teks, verwerking of vertaling gewen vir My kroon se krank, wat by verlede jaar se KKNK opgevoer is.
Veronique is ’n 23-jarige skrywer, aktivis, digter, woordkunstenaar, regisseur en aktrise van die Paarl.
Sy het by die laerskool LK Zeeman en Klein Nederburg Sekondêr skoolgegaan. Hierna het sy haar voorgraadse en honneurskwalifikasies aan die Universiteit Stellenbosch in BA Drama en Teaterstudies gedoen en haar meesters in kreatiewe skryfwerk by die Universiteit Rhodes.
Veronique het haar buiging as dramaturg by Woordfees 2020 gemaak met Hoe change hulle met Marlo Minnaar, onder leiding van Lee-Ann van Rooi. Sy was ook onlangs te sien in die Fiësta-bekroonde produksie Jakkals en Wolf Onbeperk, deur Malan Steyn, en regie deur Amelda Brand. Veronique is ook een van die ses skrywers wat gekies is om in Julie 2020 in die Jakes Gerwel-huis vir die Afrikaanse skrywersresidensie te gaan woon.
Sy is die een wat die “Dear Mr President”-gedig en ook “The apology we never got” geskryf het, wat op sosiale-media-platforms was. Sy is passievol oor kwessies soos geslagsgebaseerde geweld, vroueregte en menseregte, asook regverdigheid.
Veronique vertel haar belangstelling in kreatiewe kunste het reeds begin toe sy vier jaar oud was en hulle ’n Kersfeeskonsert moes opvoer.
“Ek was altyd baie uitgesproke en het dit gelove dat mense stilsit en na “kinders” luister. Dit was wonderlik. Toe ek so nege was het ek besef daar is iets soos ’n regisseur en skrywers en akteurs en dat die mense op 7de Laan nie hul eie woorde sê nie en dat Oppiekoffie nie ’n regte plek is nie.
“Toe weet ek dis wat ek wil doen en dat dit moontlik is.
Haar hoërskooljare was nie veel anders as die res s’n nie.
“Ek het geleer, het skool gelove en het onderwysers gehad wat altyd in ons ingedril het dat alles moontlik is met harde werk. Juffrou Banda, Meneer Loth en Juffrou Arendse was van die wat my menswees grootliks geskep het met die manier hoe hulle met hul leerders omgaan. Ek was nog altyd iemand wat nie kan stilbly as iets nie reg is nie. Gelukkig bied die kunste en sosiale- media-platvorms my die geleentheid om dit met ander te deel. Soms maak en geraas op sosiale media, soms vertolk ek ’n lekker rol en soms dig ek en praat oor kwessies wat my na aan die hart lê.”
Tans werk Veronique voltyds aan ’n nuwe telenovelle waarvan sy “niks kan sê nie”, maar kykers sal binnekort uitvind watter opwindende nuwe dinge sy doen.
Haar tweede digbundel sal ook hopelik later hierdie jaar verskyn en sy sê dit is soveel anders as haar vorige bundel, Soe rond ommie bos. “Ek dink lesers gaan pleasantly surprised wees. Ek het ook ’n 21-minuut- eenvrouvertoning by die Suidoosterfees hierdie jaar, Chronicles vannie Lavis, waar ek die rol van Mavis vannie Lavis vertolk, en die skrywe van Mavis self verwerk in ’n verhoogstuk. Kaartjies is beskikbaar op Webtickets vir slegs R21. Dit verkoop vinnig, so hardloop!”
“My ultimate goal is om konstant so na aan die Here as moontlik te bly en om altyd seker te maak my hart is op die regte plek.
“Oor 10 jaar sien ek myself getroud, as ma van twee en hopelik as Kreatiewe Skryfkuns-dosent! Oor 20 jaar? Hopelik toer ek en my toekomstige familie ’n bietjie en sien en ervaar die wêreld in al sy glorie!”





