Sowat nege jaar nadat die grafte van talle afgestorwenes in die Parys-begraafplaas platgestoot is, is ’n muur van herinnering uiteindelik daar opgerig.
In 2014 het Paarl Post berig dat familielede met skok en per toeval verneem het dat hul geliefdes se grafte platgestoot is en dat daar selfs ’n pad is waar van die grafte eens was.
Desmond Andrews was een van die eerste inwoners wat, toe hy in 2014 sy pa se graf wou besoek, nie net moes sien dat die graf platgestoot is nie, maar hy het ook beendere ontdek wat by nuut oopgegrawe grafte gelê het.
Andrews het destyds aan Paarl Post vertel dat toe hy in die een gat afkyk, hy ’n gedeelte van ’n kis kon sien uitsteek. Andrews se pa is in 1965 oorlede en is begrawe in die ou begraafplaas-blok van die Ou Apostel Kerk.
“By nadere ondersoek moes ek uitvind dat daardie gedeelte van die begraafplaas platgestoot is om ruimte te skep vir die nuwe gedeelte van die begraafplaas.”
Die munisipaliteit het in 2014 per brief op Andrews se navrae gereageer en gesê dat geen families individueel gekontak is nie omdat daar geen kontakbesonderhede was nie en ook geen sigbare tekens aan wie die grafte behoort het nie. Die munisipaliteit het gesê advertensies is in die plaaslike koerant sowel as kennisgewings by die munisipale kantore geplaas.
Die munisipaliteit het destyds vir Andrews verseker dat sy oorlede pa se oorskot nog net daar is waar hulle hom begrawe het.
Op Woensdag 1 Maart is ’n intieme seremonie by die Parys-begraafplaas gehou om die muur van herinnering met 3 000 name op te onthul.
Die muur is deur die munisipaliteit opgerig ter herinnering aan die duisende oorledenes wie se grafte platgestoot is.
Volgens Andrews het families nou weer ’n plek om te besoek waar hulle hul respek aan hul oorlede familielede kan gaan betoon. “Namens die Paarl-Oos-gemeenskap wil ons net dankie sê aan Drakenstein-munisipaliteit vir hierdie geleentheid,” sê Andrews.


