’n Plaaslike inwoner het verlede week haar ontevredenheid uitgespreek oor haar elektrisiteitsmeter wat elke maand deur die munisipaliteit geblok word.
Die vrou, wat anoniem wil bly, vertel dat dit nie net haar elektrisiteitsmeter is wat maandeliks geblok word nie en ook dat sy nie al een is wat ongelukkig is oor die munisipaliteit se afsnydatum vir betalings van inwoners se munisipale-rekeninge nie.
“Hoekom blok die munisipaliteit mense se krag, maar hul rekening is nie agterstallig nie? Ek betaal elke maand die 25ste as ek my salaris kry, maar dan blok hulle die krag die 15de van die nuwe maand en dan moet ek elke maand die 25ste betaal en bel om my krag te unblock. Dit is nie reg nie en baie mense is ontevrede.”
Sy meen dat haar rekening nie agterstallig is nie, maar Bradley Brown, finansiële hoof van Drakenstein-munisipaliteit, sê wil dit voorkom of die klaer se rekening wel agterstallig is in terme van hoe die rekeningstelsel werk.
“Wanneer ’n verbruiker die eerste keer om dienste aansoek doen, byvoorbeeld op 1 Januarie 2022, word die meters teen einde van Januarie 2022 gelees.
“Die verwerking vind plaas op 25 Februarie 2022, waarna die rekening dan op 15 Maart betaalbaar sal wees, wat ’n aanduiding is dat rekeninge soveel as ses weke ná die verbruiksdatum betaalbaar is, terwyl Eskom ons (die munisipaliteit) net 15 dae grasie gee om hul massiewe maandelikse rekening te betaal. Die verbruikersrekeninge word dus op die 26ste van die maand verwerk en teen die einde van die maand gelewer, waarna ons 15 dae grasie gee vir die betaling daarvan,” verduidelik Brown.
“Die maandelikse betaaldatum is die 15de, maar indien die 15de gedurende die naweek of op ’n openbare vakansiedag is, skuif die betaaldatum aan na die volgende werksdag.
“Alle rekeninge wat ná die betrokke vervaldag ’n uitstaande balans van R100 en meer het, asook ouer as 30 dae is, word dan outomaties deur ons finansiële stelsel op ’n basis van 60/40 geblokkeer, wat beteken dat 60% van die voorafbetaalde elektrisiteitsaankope na die verbruiker se uitstaande skuld toegewys sal word totdat hierdie skuld van 30 dae en ouer gedelg is.”
Brown verduidelik dat in die lig van die bogenoemde verduideliking is die onus op die verbruiker om te verseker dat hulle geld het teen die 15de van die volgende maand om die rekening te vereffen.
“Niks verhoed die verbruiker om dit ook voor die 15de te vereffen nie. Verbruikers wat wel ’n probleem het, kan enige van ons betaalkantore teen die einde van die betrokke maand besoek en ’n reëling kom maak in terme van die toepaslike beleid.”. A resident is unhappy that every month after the 15th the Municipality blocks her electricity meter. The Municipality however explains that the resident does not meet the monthly cut off date for account payments.




