Maandagaand tydens ons erge reën het ek ’n oproep om hulp oor die lekkende dak van ’n woonstel, Chicago 4A, ontvang – die inwoners was in nood.

My eerste vraag was het julle jul raadslede in die wyk gekontak. Wreed om te sê, maar die raadslede was nie ywerig genoeg om behulpsaam te wees nie.

Hul name is deur die inwoners aan my verskaf en hulle is: Evy Gouws, Elizabeth Windvogel en Miriam Adriaanse. Hulle woon almal in die omgewing.

Ek as VF+-raadslid doen die eerbare ding en kontak die burgemeester per e-pos om hom in te lig. Maar geen ontvangs van erkenning is gekry nie, of geen oproep na my toe nie.

Die middag kontak ek sy kantoor telefonies. Sy assistent bevestig aan my dat sy die boodskap aan die portefeuljehouer, raadslid Rita Andrias, deurgegee het. Ek het nog geen terugrapportering gekry nie.

Ek het video-opnames van die erg vervalle en haglike toestand van die woonstelle in Chicago gemaak.

Ek verneem by die inwoners dat om hulle stil te maak, kry hul van die munisipaliteit verf om te verf, maar dit is duidelik dat die instandhouding veel meer as net verf behels.

Met hierdie ervaring is dit vir my duidelik dat die kommunikasie tussen die inwoners en sy mense in ’n tyd van nood veel te wense oorlaat. Hierdie probleem ervaar die ander politieke partye in die raad ook.

Dit is uiters swak hantering van ’n krisissituasie deur die Drakenstein-munisipaliteit.


Rdl. Attie du Plessis

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article