Min mense is daarvan bewus dat sekere produkte soos ou batterye, stukkende rekenaars en skadelike huishoudelike afvalstowwe nie in jou munisipale vullishouer hoort nie.

Veral hierdie artikels is skadelik vir die omgewing en moet op ’n veilige manier gestort word.

Inwoners van Drakenstein kan hul huishoudelike elektroniese toerusting gratis by die Paarl-oorlaaistasie en die Wellington-stortingsterrein op ’n veilige en wettige manier stort.

“Die munisipaliteit plaas dan klein hoeveelhede huishoudelik gevaarhoudende stowwe in spesiale 770-liter-houers en vervoer dit na ’n stortingsterrein in Kaapstad, wat gevaarhoudende stowwe mag ontvang,” het Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, verduidelik.

Volgens Esau moet sakeondernemings in Drakenstein egter self enige gevaarhoudende stowwe na die Vissershok-stortingsterrein buite Kaapstad neem of ’n geregistreerde kontrakteur gebruik om dit namens hulle te doen.

Die munisipaliteit het ook ’n herwinningsprogram en herwinbare produkte word by die deelnemende woonbuurte versamel. Mense wat nie deel is van die program nie, kan hul herwinbare produkte na die Paarl-oorlaaistasie neem of gebruik maak van die herwinnings-iglo’s, wat op strategiese plekke in die dorp is waarin inwoners glas en papier kan gooi.

“Die Drakenstein-munisipaliteit verwyder dan die herwinningsmateriaal en voorsien dit aan die afval-entre­pre­neurs by die Paarl-oorlaaistasie, wat dit verder verwerk,” het Esau verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article