Amptenare van Drakenstein-munisipaliteit het onlangs die verwaarloosde historiese begraafplaas aan die voet van Paarlberg besoek.
Dit kom nadat Paarl Post berig het oor die toestand van die geskiedkundige rusplek.
Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, het voorheen gesê in die verlede is verskeie projekte saam met belangegroepe beplan wat ongelukkig nie vrugte afgewerp het nie. “Planne om die openbare ruimte wat na die begraafplaas lei te ontwikkel, sal weer tydens ’n beplande ter plaatse besoek geopper word.”
Dié ter plaatse besoek het verlede Donderdag plaasgevind. Esau het verlede week genoem dat dié begraafplaas se historiese grense bepaal sal word, en dat instandhouding daarna sal geskied.
“Daar sal onder meer aandag gegee word aan die beheer van indringerplante en –bome, asook die uitdun van struike om beter toeganklikheid te bewerkstellig. Beter toegang na die begraafplaas sal ook ’n prioriteitsprojek wees.”
Die munisipaliteit het gisteroggend met kontrakteurs op die terrein vergader. Kwotasies vir die skoonmaak van die begraafplaas sal daarna ingedien word, sê Esau.
“Die munisipaliteit sal ook belangegroepe nooi vir ’n vergadering om die ontwikkeling van toerisme rakende die begraafplaas te bespreek.”
. Drakenstein Municipality officials visited the neglected historic cemetery last Thursday at the foot of Paarlberg.




