Ek lees gereeld Paarl Post se briewekolom waarin lesers hul mening, kommentaar en kritiek uitspreek teenoor die algemene bestuur van Drakenstein, en dit is ’n baie goeie barometer van die algemene gevoel van inwoners.

Maar die daaropvolgende reaksie van die munisipale bestuur deur amptenary in die algemeen is insgelyks ’n barometer van die vermoë, bereidwilligheid en entoesiasme om daarop aksie te kan neem.. Kritiek op pragtige bome wat afgekap word, word begroet met “die bome sal weer groei”.. Die stasie se verval word begroet met “dit is nie munisipale eiendom nie, ons het geen jurisdiksie nie”.. Die vullis-strooiery en algemene vuil sakekern en hooftoegangsroetes word begroet met “maar ons maak saans na werktyd die middedorpe skoon” en “die publiek moet asseblief betrokke raak en ons help’’.. Die algemene gebrek aan sigbare polisiëring word begroet met “tekort aan mannekrag’’. My vrou en ek stap graag vroeg soggens in en om ons dorp. Ons het die afgelope vyf jaar nog nie een verkeersbeheerbeampte naby of by skole gesien wat wetstoepassing en veiligheid van kinders verseker nie. Wat ons wel sien, is wetstoepassers op pad werk toe ná 08:00 nadat die toestroom van verkeer reeds rustig is.. Die onwettige besetting van openbare en private eiendom deur plakkers en stoepslapers word begroet met “ons is in die proses om nog nagskuilings op te rig”. Hoeveel jaar nou al?. Die veiligheid by openbare geriewe word begroet met “ons werk aan volhoudbare oplossings’’.

Hoe welkom sal dit nie wees as die bestuur van ons dorpe (begin by die burgemeester), alle raadslede en wyksverteenwoordigers kan begin verander om met ’n nuwe kultuur te begin dat hulle ’n sakeonderneming bestuur en inwoners eintlik hul klante is.

Die raad hoef nie ver te gaan soek vir ’n sakebestuursmodel nie.. Gaan kyk maar net hoe ’n eenvoudige koffiewinkel-model werk – die bestel van koffie, skoon tafels en vloere en uitstaande diens bring sukses. . En as ’n koffiewinkel nie sy waardes handhaaf nie, dan loop klante na een wat wel hul waardes handhaaf.

Dieselfde eenvoudige model moet waar wees vir munisipale bestuur.

As hulle nie presteer nie, dan stem kliënte hulle uit in die volgende munisipale verkiesing, verklaar hulle onbevoeg om ons besigheid te bestuur en stel nuwe bestuurslede aan.

Dit is altyd eerbaar dat regerings (nasionaal of plaaslik) ’n beroep doen op die publiek om hulle te help in die uitvoering van hul pligte.. Eerbare beroepe wat ongelukkig meestal nie volhoubaar is nie.. Hoeveel skoonmaak-aksies was inwoners nie al by betrokke waar raadslede en wyksverteenwoordigers skitter in hul afwesigheid nie?. Persoonlik het ek nog nie gehoor van een munisipale bestuurder of amptenaar wat met ’n plastieksak stap om vullis op te tel as hulle dit gewaar nie;. Ook nie van een wat daagliks verby dieselfde vullis ry, stop en dit optel nie.

En as daar is, sal iemand dit wel in u briewekolom regstel.

Ten slotte is goeie bestuur en uitvoe­ring daarvan die raad se verantwoordelik­heid. Hulle word betaal daarvoor en het hul eie beroep vrywillig gekies.

Dit sal mooi wees as die munisipale bestuur as sakeonderneming kan reageer op klagtes in Paarl Post se briewekolom.


Willem Botha,

Wellington

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article