Asof die brandstofprys nie nou vir die verbruiker byna buite bereik is nie, beoog die departement van vervoer ook nou ’n nuwe “verkeersbestuursheffing” wat glo sal help met die finansiering van verkeersbestuurhulpbronne op provinsiale sowel as nasionale vlak.

Die voorgestelde belasting is ingesluit in ’n hersiene witskrif, wat die afgelope week deur die departement gepubliseer is. Die departement dui aan dat die belasting by bestaande voertuiglisensiegeld en/of brandstofverkope gevoeg kan word.

“ ’n Gebalanseerde finansieringsbeleid oor padverkeer moet ingestel word. Bestedingsprioriteite moet herevalueer word in die pad- en padverkeer-omgewing in die lig van verkeersgehalte verwante padgebruikersbehoeftes, die nadelige ekonomiese uitwerking van onvoldoende vlakke van padverkeersbestuur, en die verwagte voordele van verhoogde besteding aan verkeersbestuur,” het die departement gesê.

Die departement het bygevoeg dat bestaande finansiering, begroting en prioritiseringsprosedures aangepas sal word om verhoogde beskikbaarheid van geld vir verkeersbestuurdoeleindes te verseker.

“Bykomende en vernuwende finansieringstrategieë vir verkeersbestuurfunksies sal ondersoek en ingestel word. Dit sal die toewysing van ’n persentasie van die paaiebegroting vir verkeersbeheerdoeleindes insluit. Die instelling van ’n verkeersbestuursheffing op voertuiglisensiegeld en brandstofverkope sal ondersoek word.”

Die departement het gesê hy beplan ook om boete-invorderingsprosedures met betrekking tot verkeersoortredings te verbeter, en strawwe vir nie-betaling, beslaglegging van roerende eiendom en gebrekestelsels sal verbeter en ten volle geïmplementeer word.

“Die wenslikheid om verkeersboetes en borgtog aan padverkeerbestuursfondse toe te deel in plaas van boetes wat aan individuele owerhede en algemene staats- of provinsiale inkomstefondse toeval, sal ondersoek word. Vir hierdie doel sal toegewyde nasionale en provinsiale padverkeerbestuursfondse oorweeg word,” lui dit.

Verbeterde reaksietye

Die departement het ook onderneem om “voorvalbestuur” te verbeter, insluitend die lewering van mediese reddingsdienste nadat botsings aangemeld is.

“Die ontwikkeling, implementering en bedryf van voorvalbestuursplanne sal die doeltreffendheid van die dienste wat gelewer word, verbeter en reaksietye tot die minimum beperk.

“Spesifieke aandag moet gegee word aan die prosedures vir die bestuur van voorvalle waar gevaarlike stowwe betrokke is. Die nodige noodstelsels om die verskillende soorte gevaarlike materiaal te hanteer, moet ontwikkel word.”

Die departement het bygevoeg dat die koördinering en samewerking tussen die verskillende partye wat by die verskaffing van padverkeerverwante nooddienste betrokke is, onvoldoende is en verbeter moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article