’n Motorfietsryer, ’n man vermoedelik in sy 40’s, is in ’n kritieke toestand na hy Sondagmiddag sowat 100 meter van die Franschhoek-pas afgetuimel het.
Die man is na ’n reddingsoperasie deur ’n noodhelikopter uit die pas gered, voor hy in ’n ambulans na Paarl-hospitaal gehaas is, vertel ER24 se nooddienswerker, Kurt Maske.
Die dramatiese noodgeval kom nadat die man beheer oor sy motorfiets verloor het op pad na Villiersdorp vanuit Franschhoek.
Reddingspogings om die motorfietsryer versigtig uit die pas te dra het minstens vier ure geduur na die ongeluk om 13:30 aangemeld is. Die pad vanaf Villiersdorp en Franschhoek was vir ure vir verkeer gesluit.
Die toneel is uiteindelik opgeruim en die verkeersvloei herstel.





