Die Wellingtonse vrou wat byna twee jaar gelede die berg af gery het in Bainskloofpas met drie van haar agterkleinkinders is van moord aangekla.
Susana “Sarie” de Villiers was veronderstel om vroegaand op 20 November 2021 die drie broers Caleb Booysen (8), Gradwell Booysen (5) en Joshua Booysen (2) na hul huis te neem in New Rest in Wellington, maar die kinders het nooit by die huis opgedaag nie.
Familielede is later dieselfde aand ingelig dat De Villiers sowat 80 m teen die berg af gery het met die kinders. Sy het wonderbaarlik die voorval oorleef.
Ten tyde van die ongeluk was padwerk onderweg in Bainskloofpas en daar was stop-en-ry-punte om beweging op die pad te vergemaklik. De Villiers het volgens ooggetuies geweier om by stop-en-ry-punte stil te hou en het selfs deur ’n geslote valhek-beheerpunt op die pad gejaag. Die vinnige optrede deur puntdiens-beamptes aan diens het daartoe gelei dat alle ander verkeer gestop is om ’n botsing reg van voor te vermy. Toe die voertuig nie by die vierde punt aankom nie, is ’n patrollievoertuig uitgestuur, wat ontdek het dat die voertuig van die pad af gery en van die pas af geval het.
AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van Worcester-polisie wat die ongeluk ondersoek, het by ’n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê De Villiers is aanvanklik aangekla van strafbare manslag. Die aanklagte teen haar is onlangs verander.
Volgens die onlangse klagstaat wat die Paarl Post onder oë gehad het, is drie moordklagtes, strafbare manslag as alternatiewe klagtes asook ’n klagte van roekelose bestuur geopen teen De Villiers. Sy het reeds haar eerste hofverskyning gemaak op 15 Mei vanjaar in die Worcester-streekhof. Die saak word op 2 Augustus voortgesit.



