God seën die jeug van Suid-Afrika – dié wat vertel word dat vir hul onthalwe vir ’n “nie-rassige Suid-Afrika” geveg word.

Dan is daar nou en dan nuusopskrifte van “beweerde rassisme” by onder meer skole, gevolg deur optogte en konflik, wat “gepleeg word” deur ouers, met die alewige teenwoordigheid van EFF-lede wat verder haat stook.

In dieselfde sin word kinders ontneem van ’n veilige omgewing waar hul geleerdheid gekoester moet word.

Dit breek my hart. Die maniere waarop ons samelewing vir ons kinders lieg om, ten spyte van ras, sekere waardes uit te leef en na te streef. En die oomblik dat geïsoleerde gevalle van rassisme nuusflitse haal, word dit uitgebuit deur sensasionele mediakanale, en meer gevaarlik, mense met ideologiese wêreldbeskouings en agendas.

Die enkele sondaars skuldig aan rassisme word geskors, hul reputasies en toekoms vir ewig geruïneer.

Waar los dit die res van die kinders en studente wat mekaar weer op die skoolterrein in die oë moet kyk en van daar saam ’n toekoms vir ons land moet probeer bou? Hoe vervreemd voel hulle nie van mekaar nie?

Is dit genoeg om net te sê “ons strewe na ’n nie-rassige samelewing”, en voort te karring soos ons doen?


Practise what you preach
.

Hiermee wil ek ook die witolifant die hoof bied: ek sal graag wil weet wat sommige mense, soos die knaap van die Universiteit Stellenbosch, wat op ’n swart student se handboeke en skootrekenaar geürineer het, besiel het.

Dit maak nie saak wie die slagoffer van sulke dade is nie – die oortreder behoort hom te skaam en ernstig oor sy waardes en belange in die lewe te besin. Ek hoop hy ervaar diepe denke oor sy dade, wat skade aan Suid-Afrika se kwesbare rasseverhoudings aangerig het. Want die media het al lankal aanbeweeg na die volgende storie, sonder om die rimpeleffek van hul skade aan rasseverhoudings te oorweeg.

Daarmee saam wil ek ook my volle respek teenoor die pa van die swart student uitspreek, wat gesê het dat hulle slegs ’n harmonieuse uitkoms wil bewerkstellig – sonder om die fokus streng op ras te plaas.

Ek stem saam dat gevalle van rassisme ten volle gestraf moet word om sodoende die erns van rassisme te beklemtoon.

Maar hoekom word dade van rassisme in die besonder so anders in die nuus benader as dade van diefstal, opsetlike saakbeskadiging en moord in die algemeen?

As ’n joernalis mag ek nie die ras van verdagtes betrokke by ondersoeke van ernstige misdaad in ’n verslag bekend maak nie. Slegs die geslag en ouderdom mag bekend gemaak word, totdat die verdagte in die hof verskyn.

Alte gereeld in konfliksituasies tussen individue, veral wanneer die oortreder wit en die slagoffer nié is nie, word die ras van diegene bekend gemaak voordat enige tugstappe gedoen word.

Hul identiteit word op sosiale en hoofstroommedia beswadder en gevolgtrekkings word gemaak voordat ’n ondersoek en tugstappe begin. Hoe maak ’n mens sin daarvan?

Daar heers vir seker ’n rassebeheptheid oor konfliksituasies onder ons mense, en ek twyfel sterk dat die openbare en sensasionele uitbuiting daarvan die regte antwoord is.

Almal weet skoolkinders toon ’n groter geneigdheid om onder mekaar handgemeen te raak. “Barney, Barney, Barney!” sal die jong gehoor in aanskouing uitroep. Dis ’n natuurlike verskynsel.

Maar die oomblik wat so iets onder kinders van verskillende rasse uitbreek, word dit op al wat ’n sosiale of nuuskanaal is uitgesaai en veroordeel.

Is dié menslike reaksie gesond of produktief vir ons kinders se toekomstige samelewing? Of dra ons by tot ’n omgewing waarin rassisme en gevoelens van verwyt verder broei?

Ons behoort jongmense die ruimte te bied om van mekaar te verskil en te leer hoe om ’n konfliksituasie goed deurdag en diplomaties op te klaar. Dit is nie nodig om hulle teen mekaar op te sweep, gebaseer op ideologiese en rasbehepte beginsels nie.

Wat sal dit tog help?

Kan ons nie eerder die fokus op menslikheid (die respek en liefde teenoor alle mense) vestig nie?

Vra jouself – is dit nodig om sulke vuil wasgoed voor die oë van die nasie uit te spoel? . Die akteur Morgan Freeman is in ’n 2005-onderhoud met Mike Wallace gevra wat hy dink van “Black History Month” in Amerika. Freeman meen dit is belaglik.

Black history is American history.” Toe Wallace hom vra hoe hulle van rassisme ontslae kan raak, sê Freeman: “Stop talking about it. I’m going to stop calling you a white man, and ask you to stop calling me a black man.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article