“Hoe het jy dié uitgawe gratis gekry?” vra ene David. “Wie gee om? Stuur dit net aan,” antwoord Mari.

Die dialoog word gebruik in ’n bewusmakingsveldtog van Media24 in ’n poging om die onwettige verspreiding van verskeie van sy publikasies, insluitend Paarl Post, in PDF-formaat op WhatsApp-groepe te probeer hokslaan.

Die aksie om ’n koopartikel wat onwettig bekom is, te versprei, word as diefstal beskou, terwyl die onregmatige verspreiding van die koerant ’n oortreding van die kopieregwet is. Dit hou dus strafregtelike implikasies in vir iemand wat hom- of haarself hieraan skuldig maak, en in hierdie geval is “die deler net so goed soos die steler”.

Buiten die wetlike aspek daarvan, doen dit ook ’n onreg aan die span joernaliste wat hard werk om die Drakenstein-vallei se lesers ingelig te hou en soos enige ander werkende mens ook ’n salaris moet verdien om hulself en hul gesin te onderhou. Dit doen ook afbreuk aan die adverteerders wat geld uitgee om hul produkte aan die publiek te bemark en waarsonder die koerant nie sou kon verskyn nie.

Dus, indien jy ’n PDF van die koerant ontvang, meld asseblief die groep of mens wat dit versprei aan deur e-pos te stuur met die betrokkene of groep se naam en kontaknommer na edit@paarlpost.co.za of report@media24.com.



,


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article