Die kwik het reeds hier in die nuwe jaar die hoogte in geskiet, maar die naweek gaan die Paarl-vallei behoorlik weer kook met die kwik wat Sondag tot 44 °C kan styg.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se afdelings branddienste, rampbestuur en munisipale gesondheidsdienste is verantwoordelik vir die welstand van ons inwoners en ons omgewing.

As gevolg van die warm weer wat vir die naweek voorspel word en die gewone warm weer wat met Februarie verband hou, deel die afdelings ’n paar wenke oor hoe om ons omgewing, en sodoende ook onsself, veilig te hou:

BRAND

Die voorkoming en aanmelding van brande is almal se verantwoordelikheid. Hoe vroeër ’n brand aangemeld word, hoe gouer kan die branddienste die situasie evalueer en die regte hulpbronne ontplooi. Enigeen kan ’n veldbrand aanmeld – in die Kaapse Wynland is die nommer om te skakel 021 887 4446.

Wayne Josias, die KWDM se brandweerhoof, waarsku: “Die maak van [oop] vure op baie warm dae wanneer die brandindeks hoog en die toestande gunstig vir ’n veldbrand is, moet vermy word. In hierdie warm weer is die grond en plante baie droog en selfs ’n klein vonkie, as dit op die regte plek beland, kan katastrofiese gevolge inhou.”. Gedurende hierdie baie warm seisoen is dit raadsaam om koue kos in te pak en ’n piekniek te hou eerder as om ’n vuur aan te steek, selfs al is daar aangewese braaiplek. . Stappers, bergfietsryers, drawwers en kampeerders moet ekstra waaksaam in die hitte wees wanneer hulle buite is. Vertel altyd ’n familielid of vriend die roete wat jy gaan volg en wanneer hulle jou terug kan verwag. Sodoende kan jou familie die owerhede in kennis stel en jou veilige ontruiming reël, indien nodig. . Grondeienaars en boere moet seker maak dat alle vlambare plantegroei op die grense van eiendomme/boorde en op brandlyne opgeruim word.

MUNISIPALE GESONDHEIDSDIENSTE

Dit is van kardinale belang dat voedsel in hierdie hitte veilig bewaar word. Veral vleis is geneig om te bederf as dit aan hoë temperature blootgestel word.

Theresa Davids, die hoof-omgewingspraktisyn, raai mense aan: “Onthou om ’n geïsoleerde inkopiesak of koelsak saam te neem as jy inkopies gaan doen, veral as jy op ’n taxi of ander vervoer moet staan en wag.

“Vleis kan maklik bederf en bakterieë ontwikkel as dit nie koel gehou word nie, en dit kan jou siek maak.

“Jy kan ook ’n bevrore bottel water in jou inkopiesak sit om te help om vleis, suiwelprodukte en kouevleis koel te hou terwyl jy ná inkopies huis toe reis.”

As jy die dag in die buitelug deurbring, kan jy op ’n paar maniere voorberei. . Vul waterbottels met water en vries dit oornag – dit kan dan as yspakke in die koelsak gebruik word en die water kan gedrink word wanneer dit smelt. . Pak ’n paar waslappe en seep in; dis baie belangrik om jou hande te was voordat jy in die buitelug eet! . Wanneer jy jou koelsak pak, probeer die kos en verversings wat eerste gebruik word, bo inpak sodat jy net die koelsak hoef oop te maak wanneer dit nodig is. . Indien moontlik, pak koeldrank en ekstra water in ’n aparte houer, aangesien dit meer dikwels oopgemaak sal word. Sodoende sal die kos in die koelsak koud en vars bly. Hou altyd koelsakke in die skaduwee. . Dis beter om plastiek- of weggooihouers vir ’n piekniek te gebruik; glas is breekbaar en kan ’n lelike besering veroorsaak as dit breek. Maak seker dat jy skoonmaak voordat julle ’n openbare ruimte verlaat. Neem ’n vullissak of twee saam sodat weggooigoed opgetel en dadelik weggegooi kan word.

RAMPBESTUUR

Verdrinking is een van die grootste oorsake van dood onder kinders in Suid-Afrika. Moet nooit kinders alleen laat naby ’n swembad, rivier of dam nie. Baie verdrinkings vind plaas wanneer volwassenes kuier en minder op hul hoede is. Moenie van kinders verwag om na hul jonger sibbe om te sien nie. Maak seker dat kinders wat nie kan swem nie, te alle tye ouderdomsgepaste dryfuitrusting dra.

Shaun Minnies, die hoof van rampbestuur, raai aan: “Die grootste risiko wat ons in hierdie warm weer loop, is sonsteek, en as dit nie behandel word nie, kan dit die dood veroorsaak. Hier in die Kaapse Wynland val ons warmste dae saam met skoleatletiek, buitemuurse aktiwiteite en oestyd. Daarom is dit uiters belangrik dat mense wat tyd in die buitelug deurbring, altyd ’n hoed dra, toegang tot skoon, vars drinkwater het en nie in die hitte van die dag in die son is nie.. Sonbrand: Maak altyd seker dat jy sonskerm aansmeer en weer aansmeer nadat jy geswem het. Bly tussen 11:00 en 14:00 uit te son.. Ontwatering: Drink baie water, veral wanneer jy geoefen of buite gewerk het.. Moet nooit kinders of diere alleen in ’n warm, toe voertuig los nie.

Laastens, hou noodnommers byderhand. Kontak die betrokke nooddienste as jy bekommerd is oor iemand se toestand. Moenie wag totdat dit te laat is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article