Die dood van die 26-jarige Lee-James Cupido van Wellington laat ’n groot leemte in die lewe van baie mense nadat hy die afgelope nege jaar teen kanker baklei het.

Sy vriende en familie beskryf hom as ’n lig in baie lewens – ’n inspirasie, iemand met ’n groot veggees en ’n liefde vir rugby.

Kolonkanker is die eerste keer in 2013, toe hy net 16 jaar oud was, by hom gediagnoseer. Sy ma, Jacky Cupido, vertel haar seun het kort ná sy diagnose chemoterapie ontvang.

“Omdat ek en sy pa al twee werkverantwoordelikhede gehad het, moes hy alleen per trein na die Tygerberg-hospitaal vir chemoterapie reis. Hy het dit alles gedoen en boonop nog skoolgegaan. Ná sy behandeling by die hospitaal het hy telkens weer die trein terug huis toe gehaal.”

Jacky vertel met trots watter dapper mens haar seun was en sê hy was nie iemand wat in ’n hoekie gaan lê het nie.

“Hy het elke oomblik baklei, en om rugby te speel, was sy uitlaatklep. Ná ’n jaar se behandeling het dokters hom in 2014 kankervry verklaar.”

Cupido het intussen aan die Hugenote Hoërskool gematrikuleer en sy studies in onderwys begin. Volgens sy ma was hy in 2016 in sy eerste jaar toe die kanker teruggekeer het.

Daardie keer is metastatiese kolonkanker by hom gediagnoseer. Dit beteken die kankerselle het verder as die kolon na ander organe versprei.

Volgens sy ma was sy blaas en uretra reeds besmet en sy dokters het gemaan dat hy nierversaking kan opdoen.

“Ten spyte van alles waardeur hy gegaan het, het Cupido nooit moed opgegee nie, hoewel hy siek en uitgeput was weens die bestraling en chemoterapie-behandeling. Hy het weke agtermekaar behandeling ondergaan en uiteindelik het net ’n klein gewas agtergebly. Die dokters het ’n ligte chemoterapietablet voorgeskryf om die gewas in bedwang te hou.”

Cupido se gesondheid vir die volgende vyf jaar was stabiel totdat hy tydens ’n gereelde doktersondersoek in 2021 uitgevind het die kanker het tot in sy buik versprei, vertel Jacky.

Hoewel dié nuus Cupido platgeslaan het, het hy sterk gestaan in sy geloof. Hy moes ’n groot operasie ondergaan om sy kolon, rektum, prostaat en blaas, wat deur die kanker aangetas is, te laat verwyder.

Ongeag wat hy deurgemaak het, glo Jacky haar seun het ’n vol lewe gehad.

Hy het in Maart verlede jaar trou belowe aan Mashé, die liefde van sy lewe.

Cupido het ook net by Bergrivier Sekondêr begin skoolhou voordat sy toestand vererger het, tog het hy altyd hoop gehad.

Jacky kan nie ophou om met lof en trots oor haar seun te praat en hoeveel ander mense hy deur sy storie geïnspireer het nie.

“Hy het soveel dinge deur sy siekte bereik. Hy het sy studies voltooi en ’n onderwyser geword, hy het ’n onderneming begin en hy was selfs al ’n Mnr. Draken­stein.”

Jacky sê sy gaan haar seun sonder twyfel baie mis, maar haar hart vind rus in sy nalatenskap. Dit spreek van aanhou en uithou, ongeag waardeur ’n mens in die lewe gaan.

Cupido is op 16 Januarie oorlede en is reeds ter ruste gelê.

  • The death of 26-year-old Lee-James Cupido leaves a big void in many people’s lives. Cupido, who hails from Wellington, had been fighting cancer on and off for the past nine years.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article