Die jaar het vir Leah le Roux (13) van die Paarl onstuimig begin nadat twee lewensgevaarlike diagnoses op een dag in Februarie met haar en haar gesin gedeel is. Tog het sy nie vir een oomblik gevra “hoekom ek” nie, maar eerder aan haar geloof en die gemeenskap wat haar bygestaan het, vasgeklou.
Vandag is Leah, ná twee uitdagende operasies, baie gebede en ondersteuning, op die herstelpad.
Volgens Leah se ma, Liezén, het alles begin toe haar dogter op 17 Februarie ‘n afspraak by hul huisdokter gehad het om ‘n vratjie af te brand.
Die dokter het toe vir Leah gevra vir ‘n sekere beweging, wat sy nie kon uitvoer nie.
Daarna het die dokter dadelik onraad vermoed en vir Leah gestuur vir x-strale, waarna geglyde bo-femorale epifise (slipped upper femoral epiphysis) by haar gediagnoseer is.
Dit is ‘n ortopediese toestand by kinders en tieners waar die kop van die femur by die heupgewrig van sy normale posisie afskuif of verskuif by die groeiplaat. Die groeiplaat is die sagte deel van die been waar groei plaasvind. Wanneer hierdie deel verswak, kan die kop van die femur agtertoe of afwaarts skuif, amper soos roomys wat van ‘n keël af gly.
Daardie selfde dag het Leah ook ‘n afspraak by ‘n tandarts gehad waar vasgestel is dat sy ‘n groeisel in haar mond het.
‘n Biopsie en x-strale is ook geneem waar dit ná 10 dae aan die lig gekom het dat die groeisel nie kwaadaardig is nie, maar in haar kakebeen is baie naby aan ‘n senuwee.
Planne is toe dadelik gemaak om Leah by spesialiste te kry, maar omdat sy die Mediclinic Durbanville moes besoek vir ‘n delikate mondoperasie, is ‘n Back-A-Buddy-veldtog deur een van Liezén se vriende begin om die onkostes te dek.
Volgens Liezén was dit aanvanklik moeilik vir die gesin om hul “trots te sluk” en vir geld te vra, veral omdat hulle nie geweet het hoe lank Leah in die hospitaal gaan deurbring nie, en wat die koste gaan beloop nie.
Maar, op die ou end het die gemeenskap saamgestaan en soveel geld ingesamel dat daar nou te véél is. Volgens Liezén beplan die familie om die oortollige geld in die Back-A-Buddy-stelsel terug te ploeg vir iemand anders wat dit benodig.
Liezén het vertel dat die geld hoofsaaklik gebruik is om Mediclinic se rekening te dek omdat die operasie aan Leah se heup gedoen is by die staatshospitaal in die Paarl, nadat die gesin se huisdokter ‘n motivering geskryf het.
Fyn snywerk
Volgens haar het die operasie plaasgevind in die ortopediese afdeling, en was dit ‘n groot sukses. Sy het die hospitaal asook die personeel in hierdie afdeling bedank vir hul goeie werk.
Om Leah se groeisel uit te sny, was meer ingewikkeld omdat dit naby aan senuwees was wat beskerm moes word. Liezén het verduidelik dat dit juis vir dié rede is dat hulle die private hospitaal besoek het wat oor gekwalifiseerde spesialiste beskik om die “fyn snywerk” te behartig.
Volgens haar was dit ‘n baie “delikate” operasie, en moes die operasie ook binne ‘n sekere tydsraamwerk plaasvind.
Vandag is Leah terug by die huis, maar dié keer in Bellville, nadat die gesin twee weke gelede van die Paarl na Kaapstad verhuis het.
Liezén het gesê dit gaan goed met haar dogter en dat haar kakebeen binne drie maande ten volle sal herstel, terwyl haar heup ses maande sal neem.
Deurentyd moet sy gaan vir x-strale asook fisioterapie vir haar heup.
Volgens dié trotse ma het Leah nooit moed opgegee nie, en gereeld haar geloof ingespan vir motivering óf om haar dankbaarheid te deel.
Die Back-A-Buddy-veldtog het ongeveer R129 000 ingesamel waarvan ‘n gedeelte vir ‘n ander behoeftige geskenk sal word.
Liezén het ook verduidelik dat die Laerskool Slot van die Paarl, waar Leah sport beoefen het, geld ingesamel het, maar dat hierdie geld vir ‘n ander doel geskenk sal word.





