Dit is vyf jaar sedert die afsterwe van haar lieflingkind, en Anja Coetzee van Wellington het haar belofte nagekom om aan die uitmergelende Comrades-marathon deel te neem.
Coetzee se sewejarige dogtertjie is in 2019 oorlede nadat ’n seldsame soort kanker, clivus chordoma, by haar gediagnoseer is.
“Sy het voor haar diagnose baie gekla oor haar nek wat seer is en ek het haar na die dokter geneem en X-straalplate is geneem. Hulle kon geen fout vind nie. Toe, vroeg in 2018, toe sy gr. R toe moet gaan, was sy baie moeg en wou net die heeltyd lê. Ons is weer dokters toe en hulle het vitamiene voorgeskryf. Een Vrydagmiddag het haar juffrou laat weet haar een ogie trek ’n bietjie skeef.
“Die volgende oggend het die dokters ’n CT scan gedoen en toe kry hulle ’n groot gewas naby haar breinstam. Dit is ’n bitter skaars soort kanker wat eintlik glad nie by kinders voorkom nie, en as dit by kinders voorkom is dit baie aggressief. Die dokters het ’n operasie gedoen om die meeste van die gewas te verwyder en bestraling toegedien, maar hulle het vir ons gesê dit is maar eintlik net om tyd te koop.”
Kanker is op 24 Februarie 2018 by Klein Mia gediagnoseer. Coetzee sê dit was die minste van haar verwagtinge.
“Ek het glad nie eens gedink dat dit so iets kan wees nie. Dit was bitter erg. Ons was by Mediclinic Paarl en toe hou hulle ons daar. Dokters het gesê al hospitaal in Afrika wat ons dalk kan help is Rooikruis en ons is reguit soontoe.
“Hulle het daar ’n hele span dokters bymekaar gekry van verskillende hospitale wat toe die operasie uitgevoer het. Die meeste van die dokters wou dit nie eens doen nie, want dis ’n operasie wat hulle deur haar neus en verhemelte moes doen. Haar boonste nekwerwels was al verbrokkel en hulle moes dit ook opbou. Die operasie het sowat 10 uur lank geduur.”
Vir Coetzee om te sien hoe haar oudste dogter moes ly, was pynlik – ’n gevoel wat sy self nie in woorde kan omsit nie.
“Sy het in die laaste ses maande net in haar bed gelê. Sy kon later nie meer hoor en praat nie,” vertel Coetzee terwyl sy nie meer haar emosies kan keer nie.
“Sy was die inspirerende een. Dokters het haar sowat ’n week gegee om te lewe, maar sy het seker so vyf maande nog vasgebyt. Dit is ’n diep seer en om jou kind so te sien, was nie lekker nie. Op haar einde was sy net vel en been. Mia was half op haar einde en toe sit ek en twee vriendinne van my saam met my op haar bed. Ek het toe gesê as sy so kan sterk wees deur alles, dan kan ek dit ook doen. Ek het die belofte gemaak dat ek die Comrades gaan aanpak. In daai stadium kon ek nog niks hardloop nie, maar ja, dit het nou uiteindelik gebeur.”
Die Comrades, van meer as 80 km en wat afgelê is tussen Durban en Pietermaritzburg, is iets wat sy vir haarself wou doen, maar ook vir klein Mia; om eer te gee aan haar jong lewe wat kortgeknip is.
“Ek het eintlik gedink dit gaan erger wees. Ek het al voorheen die Twee Oseane-marathon gehardloop en die Comrades is 30 km verder, maar op dié dag was ek nie een keer seer of moeg nie. Dit was net amazing en ek dink my engeltjie was by my.
“Met Mia se siekte het ons huis heeldag mense gehad wat kom kuier het en net by haar wou wees. Sy was omring deur baie liefde en ons het verskriklik baie support gehad, en die week voor die Comrades het dit amper weer so gevoel, want ek het weer so baie boodskappe gekry.”
Klein Mia is van haar pyn en lyding verlos twee dae ná haar sewende verjaarsdag op 3 November 2019. Coetzee sê haar ander dogter, Lara, hou haar staande deur alles.
Coetzee maak ook gereed om nog uitdagings aan te pak soos die Iron Man-kampioenskap.
“Ek dink ek gaan nou ’n paar challenges vir myself stel, want dit help baie in my kop. Om te oefen en om doelwitte te stel is elke keer lekker om dit te bereik. Dit voel vir my Mia is naby my wanneer ek dit doen.
“Ek kan nie in ’n hoekie gaan sit en krepeer nie, want dis nie wat my kind sou wou gehad het nie. So, ’n mens moet aanhou en vorentoe kyk. En ek wil hê sy moet weet haar mamma het nie gaan lê nie.”





