“Ek het in Augustus 2021 my heup gekraak en was vir drie maande op krukke. Ek het gedurende hierdie tyd baie gegroei en die Here het my vir die onbekende wat op my gewag het, voorberei.”
Met hierdie woorde word die 22-jarige Paarlse atleet Jana le Roux se ervaring van toe kanker verlede jaar by haar gediagnoseer is, saamgevat.
Dié oud-Girlshaaier het in 2018 gematrikuleer en haar studies in Augustus 2019 in Amerika begin.
Sy sê sy het haar eerste twee jaar by Oklahoma Baptist University in Oklahoma deurgebring en later na Biola University in California vir haar derde en vierde jaar geskuif.
“My derde jaar is egter in Junie 2022 onderbreek toe kanker gedurende my vakansie gediagnoseer is.”
Die vreesaanjaende openbaring het gevolg toe sy ná haar heupbreuk in Januarie verlede jaar geweldig gesukkel het om weer te begin hardloop.
“Daar was nie een week dat ek elke dag (wat my gewoonte was) kon oefen nie. Ek was moeg, my asemhaling was moeilik en my bene kon my nie ondersteun nie.”
Jana het ná vele doktersafsprake in Amerika eerder gewag totdat sy vir vakansie in Mei en Junie Suid-Afrika toe kom om ’n kardioloog te besoek.
“Hy het my gevra om my arm op te lig sodat hy my koors kon meet. Ek het baie in die gimnasium geoefen en gewigte opgetel om my fiks te hou aangesien ek nie kon hardloop soos ek wou nie. Ek het aan hom genoem dat ek dalk ’n spier verrek het.
“Hy stel toe voor dat ek vir X-strale gaan, wat ’n breuk in my skouer en humerus opgelewer het.”
Jana is ’n paar dae later – op 27 Junie – in ’n hospitaal in Somerset-Wes opgeneem waar ’n MRI op haar skouer gedoen is. Min het sy geweet dat Ewing Sarcoma later dieselfde dag by haar gediagnoseer sou word.
“Ewing Sarcoma is ’n skaars soort beenkanker wat gewoonlik in kinders tussen 10 en 16 gesien word. Ek moes onmiddellik met chemoterapie begin en het elke tweede week vir behandeling gegaan.”
Sy moes ’n week lank in die hospitaal bly aangesien sy daagliks chemoterapie ontvang het.
X-strale het vier maande later gewys dat die 8 cm lange kankergewas in Jana se skouer gekrimp het.
Die pad na herstel sou egter nog styl opdraandes vir dié vietse atleet oplewer.
“Die operasie wat op my uitgevoer is, was die vyfde van sy soort wat ooit in Suid-Afrika uitgevoer is,” vertel die dapper sportster.
“Die operasie het behels dat my skouer en humerus uit my liggaam gehaal is. Die been is toe bestraal om van oorblywende selle ontslae te raak, waarna die been toe teruggesit is.”
Sy moes toe vir nóg drie maande daarna steeds chemoterapie ontvang.
“Ek moes aanvanklik eers chemoterapie in Maart klaarmaak, maar aangesien ek vroeg in Januarie kankervry was, het ek besluit om my drome te hervat en terug te keer na die VSA. My spanmaats en afrigter het my gedurende die agt maande van chemoterapie gedra en my in 2023 opgewonde terug verwelkom. Ek is van plan om in Mei vanjaar klaar te maak, en dan gaan ek nog ’n addisionele jaar doen as gevolg van die paar maande wat ek in 2022 moes uitsit.”
Jana sê sy is van kleins af ’n groot beplanner, maar kanker het haar geleer om die beste van elke dag te maak.
“Ek het geen idee waar ek volgende week of oor 10 jaar gaan wees nie. Al wat ek het, is vandag. Ek het ’n 20%-kans om oor die volgende paar jaar kankervry te bly, maar ek benut ten volle dit wat ek het.”
Sy kies om eerder die seëninge in klein dingetjies wat sy eens as vanselfsprekend geag het, raak te sien. “Ek dink ons leef in ’n wêreld waar soveel gefokus word op hoe ons lyk, waar ons bly en waarmee ons ry.
“My liggaam is nie wat dit was nie. Ek het my hare verloor, ek het ’n litteken van 19 cm en ek kan nie my arm bo 90 grade lig nie. Maar my liggaam het my ’n tweede kans gegee en ek vier elke dag dit wat my liggaam vir my kan doen, en nie hoe dit dalk vir ander lyk nie.”
Sy wil graag ander met haar storie inspireer, maar bieg met trots dat sy geen spesifieke doelwitte het nie.
“Ek dink ons groei elke dag ’n bietjie meer, en as ek planne maak vir die res van die jaar, kan ek dalk my potensiaal van môre beperk.”
Jana is ongelooflik dankbaar vir die geleenthede wat haar gebied word en die vriende aan die ander kant van die wêreld, wat soos familie geword het.
“Ek verlang soms na my geboorteland gedurende die feestyd of op verjaarsdae, maar ek sal hierdie avontuur vir niks in die wêreld verruil nie.
“Ek sal graag die VSA eendag my tuiste wil maak, maar baie water moet nog eers in dié emmer inloop.”
Jana het aan Paarl Post haar dankbaarheid vir die Paarl se ondersteuning en geloof in haar gedurende haar stryd uitgespreek.
“Die glimlagte, die gebede en die kort geselsies in die winkelsentrum – saam met julle het ek hierdie oorwin!”





