Minke Hugo van die Laerskool Paarl Gimnasium het onlangs uitgeblink met haar prestasie by die Bloemskou.
Dit is die eerste keer dat Minke aan die item driegang-kinderryperd vir ruiters 12 jaar en jonger deelneem en dit sommer ook wen. Wat die oomblik vir haar nog meer besonders gemaak het, is dat sy vir die eerste keer aan die skou deelneem met die familie se hings, Pearl’s Ambassador.
Volgens die 11-jarige is sy dankbaar vir die prestasie omdat sy so baie lang ure bestee aan die sport waarvoor sy so lief is. Minke sê dis lekker as “dinge” bymekaar kom.
“Ek het dit glad nie verwag nie, want dis die eerste keer dat ek Ambassador geskou het. Ek het geweet die perd kan dit doen, maar het nie geweet of ek sal click met die perd nie. Ek het dit ongelooflik baie geniet.”
Sy vertel haar liefde vir perde is geprikkel deur haar ouers, Junior en Sonika, asook haar twee oupas, Wollie Rix en JP Hugo. Minke voeg by dat perde haar eerste liefde is en wat dit vir haar nog meer spesiaal maak, is dat haar hele familie die passie deel.
“Pappa het vir mamma ook gevra om te trou by Bloemfontein-skou in 2005, nadat Pappa die groot kampioen vyfgang gewen het. Perde is in ons bloed en loop wraggies deur ons are. Pappa het altyd vir ons [ek en my ouer sussie Jonika] van so klein as drie maande saam hom op die perde laat sit, en dan stap hy so met ons in die rondte.
“Ons skou van so klein as twee jaar oud in die leiriem-afdelings.”
Minke kyk nou vorentoe en sien uit na die Moorreesburg-landbouskou. Sy werk ook twee keer harder as gewoonlik omdat sy vanjaar in die Wes-Kaap se ruiterkunsspan opgeneem wil word.
Hierdie gr.6-leerder droom daarvan om eendag saam met haar sussie Jonika (14) perde in Amerika af te rig. Hulle wil saam hul liefde en passie vir perde uitleef.
Minke oorweeg dit ook om ’n perde-chiropraktisyn-loopbaan te volg – dit is die omsien na spier-, gewrig- en neurologiese gedeeltes of skeletbeserings by prestasieperde.
Intussen sien sy daarna uit om nog baie titels by kampioenskappe op te raap soos haar pa. Minke bestempel ook haar pa as haar rolmodel.
“Hy het ongelooflik baie titels al gewen, maar is baie nederig met al twee voete op die grond. Ek het my pa nog nooit ‘windgat’ gesien nie. Hy is ook ons afrigter en die een wat vir ons leer van hard werk. My ander groot droom is om ook te probeer om my senior Protea-kleure te bekom in die driegang- en vyfgang-afdeling.
“My sussie het hierdie jaar haar senior Vyfgang Protea-kleure ontvang en gaan nou in Julie in die VSA aan die Wêreldbeker-kompetisie deelneem.
“Miskien as ek ook hard werk en al die ure op my eie insit, kan ek dalk my drome bewaarheid.”
Ma Sonika kan baie trots kan wees op albei haar kinders. Sy hoop dat hulle sal aanhou doen wat hulle gelukkig maak.
“Ek is geweldig trots op albei my meisiekinders. Nie net op elke prestasie en ‘blou lint’ nie, maar op die pragtige jong dogters wat hulle is. Die liefde en band tussen hulle is iets anders en erg besonders vir my as ’n ouer. Ek hoop hulle kan dit koester tot hul oudag.”
. Minke Hugo from Paarl Gymnasium Primary School recently excelled at the Bloemfontein horse show.





