Agri Wes-Kaap (AWK) verstaan die behoefte vir leefbare lone, maar die ekonomiese impak van die nuwe minimumloon op die landbousektor kan nie misgekyk word nie.
“Ons is uiters geskok en teleurgesteld oor die 9,7%-styging en dat AWK se aanbeveling aan die Minimumloonkommissie nie in ag geneem is nie ,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
Groot kommer heers tans dat dié styging werkloosheid eerder sal vererger. Die minimumloon beoog om huidige werknemers se las te verlig gegewe die styging in lewenskostes, maar AWK is van mening dat werkloses aan die korste ent gaan trek aangesien potensiële werksgeleenthede in die landbousektor nou soos mis voor die son verdwyn het.
Die addisionele impak op arbeidsintensiewe vertakkings asook ander landbouvertakkings is ook ’n enorme bedreiging vir winsgewendheid en volhoubaarheid.
Produsente ervaar tans hewige druk uit verskeie oorde en die kosteknyptang sal produsente se voortbestaan in gedrang bring.



