Jannie Strydom, Agri Wes-Kaap se uitvoerende hoof.Foto: AWK

Credit: SYSTEM

Agri Wes-Kaap verneem met teleurstelling dat die nasionale minimumloon van 1 Maart af met 8,5% tot R27,58 per uur sal styg.

“Ons is teleurgesteld dat die minimumloonkommissie nie georganiseerde landbou se aanbeveling om die minimumloon op ’n volhoubare manier te verhoog, in ag geneem het nie,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Agri Wes-Kaap het by die kommissie gepleit om werkskepping, die behoud van huidige werksgeleenthede, en die finansiële implikasie vir ondernemings as die kernprioriteit tydens die hersiening van die minimumloon te beskou.

“Ons het daarom kommentaar gelewer dat die verhoging in verhouding tot die inflasiekoers oorweeg moet word,” voer hy verder aan.

Agri Wes-Kaap ondersteun ’n volhoubare lewensloon, maar ’n verhoging bo inflasie kan nie geregverdig word nie.

Produsente is prysnemers wie se kontantvloei reeds onder enorme druk is.

“Hoewel baie permanente agriwerkers reeds meer as die minimumloon verdien, kan landbou nie jaarlikse verhogings bo inflasie in een produksie-inset bekostig nie,” sê Strydom.

“Dit sal aansienlik bydra tot die kosteknyptang.”

Ook die Vryheidsfront+ het gesê hy is gekant teen die verhoging van die minimumloon, wat volgens hom buitensporig is en net as ’n politieke speelbal deur die ANC gebruik word.

Die VF Plus-LP en -hoofwoordvoerder, Heloïse Denner, het gesê nes regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) slegs ’n handjievol kaders ten koste van die massas bevoordeel, net so sal die verhoogde minimumloon ten beste ’n klein groepie ten koste van miljoene werkloses bevoordeel.

“Dit is vir die ANC-regering bloot nóg ’n goedkoop manier om politieke punte voor die verkiesing aan te teken met geen inagneming van die skadelike gevolge daarvan nie,” het Denner gesê.

Sy het gesê die VF Plus is sterk gekant teen ’n minimumloon en dit druis in teen die gesonde beginsels van ’n vryemark­stelsel.

“Vergoeding moet billik wees en moet voortspruit uit ’n onderhandelingsproses tussen werkgewer en werknemer onderhewig aan ervaring en produktiwiteit.

“Die uitbuiting van werkers deur ’n hongerloon is verkeerd en onaanvaarbaar.

“Die realiteit van die verhoging van 8,5% van die nasionale minimumloon tot R27,58 per uur is bloot dat baie mense hul werk gaan verloor en die land se werkloosheidsyfer dus verder gaan toeneem.”

Sy het bygevoeg dat die Reserwebank se vooruitgeskatte gemiddelde inflasiekoers vir vanjaar 5% is.

“Dit maak dit duidelik dat ’n verhoging van 8,5% heeltemal buitensporig is.”

“Mense met ’n basiese maandelikse inkomste soos pensioentrekkers sal nie die verhoogde minimumloon kan bekostig nie. Salaristrekkers met ’n gemiddelde inkomste sukkel self al hoe meer om te oorleef en sal toenemend self die moue moet oprol om hul tuis- en tuinwerk te doen.

“Die gevolg is dat werkers soos huishulpe en tuinwerkers afgedank gaan word en nie meer werk gaan kry nie. Dieselfde gaan met plaaswerkers gebeur, wie se lone gestandaardiseer is met die algemene minimumloon en nie meer op ’n sektorale grondslag geskied nie. Boere sal al hoe meer moet meganiseer.

“Die waarheid is dat duisende salaristrekkers geld afknyp vir ’n huishulp of tuinwerker omdat hulle besef die mense is werkloos en simpatie met hulle het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article