’n Verhoging van drie persentasiepunte meer as die inflasiekoers word vir 2024 se nasionale minimumloon voorgestel.

Die nasionale minimumloon-kommissie het gister voorstelle van lede van die publiek gevra vir die verhoging in die minimumloon, wat 1 Maart 2024 ingestel moet word.

Die gemiddelde inflasiekoers vir die afgelope 12 maande is 6,2%.

By benadering is die voorstel dus ’n enorme styging van 9,2% in die nasionale minimumloon.

Dit sal ook die minimumloon van R25,42 per uur tot R27,76 per uur laat styg.

Dis nie seker watter inflasiekoers gebruik gaan word nie en dié raming is dus net by benadering, soos sakekenners bereken.

Die kommissie het reeds skriftelike voorstelle oorweeg.

Agt uit die 12 kommissarisse van die kommissie stel inflasie plus drie persentasiepunte voor.

Die sakesektor se geskrewe voorstel is vir ’n verhoging gelykstaande met die inflasiekoers.

’n “Onafhanklike kenner” het inflasie plus 75 basispunte voorgestel.

Inflasie was in Oktober 5,9% en het in Maart by 7,1% gedraai nadat dit in Junie en September die laagste tot dusver vanjaar – 5,4% – was.

Volgens Statistieke Suid-Afrika beleef die armste huishoudings – dus ook dié waarin die minimumloon verdien word – egter tans inflasie van 8,9%.

Die kommissie het vantevore gesê dit is nodig dat inflasie met meer as die heersende inflasiekoers styg.

Vanjaar het die minimumloon met 9,7% gestyg.

In 2022 is die minimumloon van huiswerkers gelyk gestel met die nasionale minimumloon.

Dit het gevolg nadat plaaswerkers se minimumloon in 2021 daaraan gelyk gestel is.

Daar is dus nou net een minimumloon, maar daar is ook sektorale minimums wat hoër as die nasionale minimumloon is.

Die minimumloon vir mense wat in openbare werkskeppingsprogramme werk, is tans aansienlik laer op R13,97 per uur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article