Motoriste wat van die vierrigtingstop buite Klapmuts gebruik maak, word gewaarsku om nie die groep minderjariges wat by die verkeersligte bedel te help nie.
Dít is volgens Veronica Galant, onder-voorsitter van die Klapmuts-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
“Ek weet dit klink wreed, maar motoriste moenie hulle [die minderjariges] voer nie. Dit maak hulle meer aggressief,” het Galant gesê.
Motoriste en Klapmuts-inwoners het die minderjariges reeds in Oktober verlede jaar opgemerk toe een of twee kinders vir geld of kos by motoriste gepleit het volgens sers. Madilyn Dombas, woordvoerder van die Klapmuts-polisie.
Sedertdien het die aantal kinders toegeneem tot meer as sewe minderjariges wat daagliks by motoriste se vensterruite verskyn – op soek na iets om aan die lewe te bly, het Dombas verduidelik.
Volgens Galant wissel die ouderdomme van die kinders tussen sewe en 15 jaar en sluit dit seuns en ’n meisie in.
Sy het aan Paarl Post gesê baie van dié kinders kom uit Klapmuts en uit huise waar nie noodwendig albei ouers teenwoordig is nie, en dié wat wel is, alkohol of dwelms misbruik.
“Ons het al na die kinders gegaan om uit te vind van waar hulle kom en hoekom hulle hier is, maar dan spring die ouers uit die bosse en jaag ons weg,” het Galant gesê.
“[…] Elke keer wanneer die kinders genader word deur die [Klapmuts]-polisie dan hardloop hulle [die minderjariges] weg in die rigting van die veld of oor die treinbrug,” het Dombas ook verduidelik.
Volgens haar word sommige van die kinders se gedrag deur hul ouers aangemoedig, terwyl ander nie bewus is daarvan nie.
“Twee van die kinders woon naby aan my, en ek het al vir een se ma gevra of sy weet dat haar kind by die robotte bedel. Toe sê sy dat sy hom [haar seun] by die skool aflaai,” volgens Galant.
Daar was onlangs voorvalle waarin die minderjariges gewelddadig teenoor motoriste opgetree en motordeure probeer oopmaak het.
“Gelukkig was die motors gesluit,” het Galant gesê.
Ander voorvalle sluit in dat druiwe van vragmotors af gesteel word en dat die kinders voor die motors inhardloop en moontlik ’n ongeluk kon veroorsaak.
Volgens Dombas is ’n klagte onlangs by die Klapmuts-polisie aangemeld teen die kinders wat ’n motor met klippe bestook het.
“Wat gaan gebeur as iemand per ongeluk een van hierdie kinders doodry? Daardie bestuurder kan dan met ’n saak van strafbare manslag teen hom sit en tronk toe gaan vir iets wat nie sy skuld was nie,” het Galant gesê.
“Die kinders wil weet hoekom hulle moet skool toe gaan as hulle niks kos het nie. Die meeste van hulle doen dit [bedel] omdat hulle honger is,” het sy verduidelik.
Volgens haar moet die Klapmuts-gemeenskap saamwerk om hierdie minderjariges uit die strate te kry en is dit nie nét die plaaslike polisie of maatskaplike werkers se verantwoordelikheid nie.
“Wat help dit die polisie neem hulle in hegtenis? Wat maak ’n mens [die Klapmuts-polisie] dan met hulle [die minderjariges]?” het Galant gevra.
Volgens haar moet buurtwagte, inwoners, die plaaslike polisie sowel as die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) saamwerk om die probleem hok te slaan.
Volgens Monique Mortlock, ’n woordvoerder vir die provinsiale minister van die DSD, is die Wes-Kaapse DSD nie bewus van minderjariges by die Klapmuts-kruising nie en is geen vermelding by die plaaslike kantoor in daardie streek gemaak nie.
“[DSD]-personeel sal hierdie week ondersoek instel en ’n dringende intervensie-plan ná assesserings instel,” het Mortlock gesê.
Volgens Dombas het die Klapmuts-polisie wel ’n “vergadering” met plaaslike maatskaplike dienste gevoer om die probleem aan te durf.





