’n Inhegtenisneming is sowat twee weke gelede, op 27 Augustus, uitgevoer ná die moord op Lee-Hogan Williams (19) van Groenheuwel, ’n gr.11-leerder aan die Paulus Joubert Sekondêre Skool.
Die inhegtenisneming is deur die Paarl-polisie uitgevoer, wat ’n 17-jarige seun vir die beweerde moord op 16 Augustus in hegtenis geneem het.
Die tiener sal op 20 September in die Paarl-landdroshof verskyn, sê kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisiekantoor.
Die verwagting is dat die saak dan na die streekhof oorgeplaas gaan word.
Die naam van die verdagte word in gevolge die Strafproseswet asook die Suid-Afrikaanse perskode weerhou omdat die hy minderjarig is.
Die beweerde oortreder is intussen in sy pa se sorg geplaas, luidens Seekoei.
Die beweerde moord op Williams volg kort ná Juliano King (18) se dood, ook weens ’n steekwond, en sowat twee en ’n half maande ná die natuurlike dood van Shannon Cortereal (17), ook ’n gr. 11-leerder aan Paulus Joubert.
Volgens Hilton Abrahams, Lee-Hogan se pa, is die gesin verlig dat ’n inhegtenisneming uitgevoer is, maar sê ook dit sal nie sy seun terugbring nie.
“Ons vat dit maar dag vir dag. Ek [Abrahams] is al terug by die werk, maar my vrou [Williams se ma] is nog by die huis.”
Volgens Abrahams ken hy nie die minderjarige verdagte wat in verband met sy seun se moord in hegtenis geneem is nie.
Hy sê wel hy weet dié oortreder is van Fairyland.
Die messtekery op Williams het sowat ’n maand gelede kort ná 20:00 plaasgevind toe hy en ’n vriend in die omgewing van die Fairyland-begraafplaas in Paarl-Oos gestap en ’n onbekende man Williams in die nek gesteek het.
Abrahams verduidelik dat ’n enkele messteek in sy seun se nek ’n hoofslagaar getref het, wat veroorsaak het dat sy seun doodgebloei het.
Volgens Abrahams het drie vriende sy seun die Vrydagaand van die moord kom haal.
Later die aand het net twee vriende teruggekeer, omdat Williams en sy ander vriend besluit het om Fairyland toe te stap.
Oomblikke later het Williams se vriend wat saam met hom gestap het, in ’n haas by sy ouerhuis aangeklop om sy gesin in kennis te stel dat daar moeilikheid is en dat Williams aangeval is.
Die aanval self het nie in die begraafplaas gebeur nie, maar in een van die strate naby die Fairyland-begraafplaas, vertel Abrahams.
Toe sy seun probeer weghardloop het om vir hulp te soek, het hy ’n bloedspoor agtergelaat wat sy pa tot by die Fairyland-begraafplaas gevolg het.
Daar het sy seun ineengestort voordat hy sy ouerhuis kon haal.
Volgens Abrahams het die verdagte en ’n vriend ’n dobbelsteen-speletjie gespeel toe Williams verby die twee geloop het.
Die verdagte het toe dadelik opgespring en Williams in die nek gesteek.
Volgens Abrahams is die moord op sy seun die eerste moord wat die omgewing in ’n wyle tref, met geen ander soortgelyke voorval wat onlangs aangemeld is nie.
“Dit is ook hoekom almal so geskok is,” sê hy.
“Lee-Hogan [Williams] wou ’n polisieman word – dit is ook hoekom hy gesê het hy wou skool klaarmaak,” vertel sy pa.





