Dit is dié tyd van die jaar wanneer duiktoerusting vir sommige vakansiegangers aan die Wes- en Suidkus afgestof word ter voorbereiding van die komende kreefseisoen.

Maar steeds bly die tydperk waartydens ontspanningsduikers kreef mag uithaal bitterlik min.

Die jongste datums waartydens kreef gevang mag word, is onlangs aangekondig.

Vanjaar se kreefseisoen begin met twee opeenvolgende dae op 16 en 17 Desember, gevolg deur 23 en 24 Desember, en dan weer 26 Desember 2023 tot 1 Januarie 2024 vir sewe agtereenvolgende dae.

Kreefduikers sal daarna weer slegs een dag oop hê om kreef uit te haal – 1 April.

Die departement van landbou, bosbou en vissery het gevra dat die publiek kennis neem dat slegs mense ouer as 12 jaar ’n ontspanningsvisvangpermit mag kry. Die permit gee onder meer ook toestemming vir visvang, die versameling, beheer en vervoer of besit van tot en met slegs vier Weskus-krewe wat per dag toegelaat word.

’n Seisoenale ontspannings­hengelpermit vir krewe kos vanjaar R94 en kan by die naaste poskantoor of aanlyn gekoop word. Dié ontspanningshengelpermit is vir die hele kreefseisoen geldig.

Kreef kan bedags tussen 08:00 en 16:00 gevang word. Die beperking per sak is slegs vier krewe per persoon per dag, terwyl die grootte-beperking lui dat ’n kreef nie kleiner as 80 mm in lengte mag wees nie.

Die departement stel dit ook duidelik dat geen kreef wat met ’n ontspannings­hengelpermit gevang is aan die publiek verkoop mag word nie. Enige kreef wat gevang, versamel of vervoer word, moet boonop heel bly.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article