Michaela Smit, wat in Julie ernstig in ’n gruwelike ongeluk op die R45 net buite Paarl beseer is, is verlede week uit die hospitaal ontslaan.
Haar pa, Hennie, het verlede Woensdag ’n foto van Michaela in ’n Facebook-inskrywing gedeel met woorde wat getuig: “Sy loop!”
“Dit gaan elke dag beter,” het hy aan Paarl Post bevestig toe hy oor haar welstand gevra is.
Soos voorheen berig, is Michaela Donderdag 14 Julie in die vroeë oggendure na die Mediclinic Paarl geneem, waar sy met ernstige beserings in die hospitaal se waakeenheid opgeneem is.
Sy en haar kêrel, Jandre Britz, is die oorlewendes van die gru-ongeluk waarin Ruan van Rooyen (24) van Wellington tragies gesterf het. Britz is kort ná noodbehandeling uit die hospitaal ontslaan.
Van Rooyen se ma het egter verlede week nogmaals nuusflitse gehaal toe sy etlike ure ná haar seun se begrafnis in die hospitaal opgeneem is.
’n Dagblad berig dat Jenifer van Niekerk glo ’n paniekaanval ervaar het toe familie en vriende in die Breezy Hill Pub, waar Van Rooyen as kroegman gewerk het, sy lewe gevier het.
Dit was ná sy begrafnisdiens, wat vroeër die dag (Vrydag 22 Julie) in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Wellington, gehou is.
Pogings is aangewend om Van Niekerk met ’n asmapompie te behandel toe sy blykbaar gesukkel het om asem te haal.
Sy is kort daarna huis toe geneem, maar is later in die hospitaal opgeneem.
Versoeke aan die familie vir kommentaar rakende haar huidige welstand is teen druktyd nie beantwoord nie.





