‘Mev. Williams’ lê die tuig neer ná dekades se diens

Juanita Williams, alombekend as ‘Mev Williams’ Foto: Heleen Rossouw


Die alombekende “Mev. Williams” wat jare lank al as senior staatsaanklaer by die Paarl-landdroshof dien, het verlede week afgetree.

Juanita Williams (61) sê haar aftrede kom nadat sy 39 jaar in die regte gewerk het.

Volgens haar het sy nog altyd ’n passie gehad vir die werk wat sy gedoen het en die rol wat sy in die gemeenskap gespeel het.

“Ek was die senior aanklaer van die hele hof-kluster hier, wat bestaan uit verskillende howe soos Paarl, Stellenbosch, Wellington, Tulbagh en Wolseley. Dit was my vyf hoofkantore wat ek bestuur het.”

Sy sê die werk wat sy gedoen het, bestaan uit ’n groot veld in die regte, en is dit moeilik om presies alles te verduidelik wat sy gedoen het en wat haar verantwoordelikhede alles behels het.

“Ek was ’n staatsaanklaer en ek het op die meeste drie jaar fisiek in die hof gewerk. Daarvandaan is ek aangestel in ’n bestuurspos. Ek moes sorg dat al die sake wat op die hofrol geplaas word ’n ordentlike saak sou wees. Ek moes sorg dat alles in die verskillende howe in my kluster glad verloop. Die publiek kon na my toe kom met hul vertoë as hulle voel dat daar meriete is in ’n saak en dan is ek die een wat die finale sê gehad het.

“Ek het met al die polisiestasies en verkeerskantore gewerk wat al die landdroskantore beman het. Basies was ek die oorhoofse oorsiener van alles wat in ’n landdroskantoor gebeur. Ek moes seker maak dat die howe aan die gang bly, en dit sluit die streekshof in Paarl ook in.”

Volgens Williams het sy ook sowat 21 staatsaanklaers gehad van die verskillende howe wat onder haar gewerk het.

“Omdat ek nie altyd by die verskillende howe kon gewees het nie, as gevolg van vergaderings, het ek kollegas gehad wat beheer oorgeneem het by die howe wanneer ek nie daar was nie.”

Met byna vier dekades agter die rug in haar loopbaan sê Williams dit voel vir haar asof die tyd baie vinnig verby gestap het, veral die laaste vyf jaar.

“Ek het altyd gesê dat ek nie bo die ouderdom van 55 in die beroep wil staan nie, want dit is nogal senutergend. Iemand het onlangs vir my gesê hulle is bly dat hulle nooit in my skoene was nie, want ek moes basies besluit oor mense se toekoms. En dit was moeilik,” erken Williams.

“Ek bedoel, ek moes besluit as ek die persoon aankla dan gaan hy tronk toe vir lewenslank. Dit was die tipe verantwoordelikheid wat aan die pos gekoppel is. Dit klink simpel, maar ek het met mense se toekoms in my hande gesit.”

Die boorling van Pniël, net buite Stellenbosch, sê sy woon vandag steeds op haar tuisdorp. Sy het gematrikuleer aan Hoërskool Luckhoff waarna sy toe regte gaan studeer het by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

“Ek is getroud met een seun en hy speel deesdae rugby vir die Pumas.”

Haar man is Devon Williams en haar seun, ’n oud-Boishaaier, is Devon Williams junior.

Sy vertel dat sy nog sou gewerk het, maar haar man het ’n jaar gelede afgetree en het hy nou verveeld begin raak met sy eie geselskap. Williams het toe besluit om by hom aan te sluit. Op die vraag of hy ook ’n loopbaan in die regte gehad het, antwoord Williams baie vinnig: “Nee, ek sou nog nooit met iemand klaar gekom het wat in dieselfde beroep is as ek nie. Ons is twee heeltemal verskillende mense met verskillende beroepe en dit het vir ons gewerk. Die een het nie die ander een se pot deurmekaar kom krap nie.”

Donderdag 30 Maart het Williams se kollegas, polisiebeamptes en selfs die publiek in ’n erewag gestaan by die Paarl-landdroshof terwyl sy uitgestap het.

Williams het nie vaste planne oor hoe sy haar aftrede gaan deurbring nie, maar vir twee maande gaan sy en haar man net bietjie wegbreek.

“Ek gaan nou vir my seun en my twee-jarige kleinkind kuier wat ek net twee keer in ’n jaar sien, want ek moes altyd werk. Daarna sal ek terugkom en besluit wat ek gaan doen. Ek hou nie van stilsit nie. Ek sal gaan stap en ek is baie lief vir tuinmaak. Ek het ook gedink om fotografie te probeer, want dit is ook een van my passies.”

Williams sê omdat sy altyd besig was, sal sy nie net nou kan afskakel nie en sal beslis nog steeds in haar aftrede help met regsadvies vir diegene wat na haar uitreik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article