Klapmuts-inwoners in Merchentstraat sit met hul hande in die hare nadat hulle reeds vir maande met onopgeloste kragonderbrekings worstel met minimale hulp van Eskom.
Volgens van dié moedelose inwoners het die probleem reeds jare gelede kop uitgesteek, maar is dit sedert die ontploffing van die transformator sowat drie weke gelede langs die R44 by Merchentstraat aansienlik vererger.
’n Deel van die R44 wat aan Merchentstraat grens, word tans deur aangestelde kontrakteurs van die Stellenbosch-munisipaliteit verbreed om die verkeer na die gebied te akkommodeer, maar om die pad te verbreed moes die ondergrondse elektrisiteit-kabels asook die transformator verskuif word.
Dit is toe met die her-installering van die kabels asook die transformator waar die probleem handuit geruk het.Die probleem het egter nie daar gestop nie.Met die opgrawe van die ondergrondse kragkabels het dit aan die lig gekom dat die kabels oud en foutief is, maar die subkontrakteurs wat Eskom aangestel het om die kabels te skuif, kon dit op Eskom se instruksie nie vervang nie, en het die foutiewe kabels weer begrawe.
Volgens die inwoners is dit slegs die huise “in die middel” van Merchentstraat wie se krag aan is, met huis nommer 4 en laer en 18 en op wat nie aangaan nie.
“Toe ons dit aangemeld het, het Eskom gesê dit is die subkontrakteur se skuld dat die krag af is omdat hulle [die subkontrakteur] die kabels en transformator verskuif het,” volgens ’n inwoner.
Nietemin, volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, bly dit Eskom se verantwoordelikheid om toe te sien dat sy infrastruktuur werk.
“Terwyl munisipale kontrakteurs tans besig is met padwerk in die omgewing, is dit belangrik om daarop te let dat alle elektrisiteitsinfrastruktuur in daardie spesifieke gebied aan Eskom behoort en deur sy amptenare bestuur word.
As elektrisiteitsinfrastruktuur in die gebied verskuif of daaraan gewerk moet word, is dit Eskom-amptenare wat dit doen,” luidens Grobbelaar.
“Ons voel soos die stiefkinders van Klapmuts,” het een inwoner gesê.“Die krag slaan af vir ’n paar dae, dan kom dit aan vir ’n paar minute, of soms vir ’n paar uur, dan slaan dit weer af vir ’n paar dae, en dan is daar nog load shedding ook,” het ’n ander inwoner gesê.
“Ons meld die probleem elke keer by Eskom aan, maar niemand luister nie.”
Volgens die inwoners het Eskom wel ’n nuwe transformator geïnstalleer nadat die vorige een ontplof het, maar daar word tans “rou krag” met ’n hoë elektriese-stroomspanning vrygestel, wat verskeie toestelle tot niet gemaak het.Inwoners het aan Paarl Post vertel dat onder meer hul yskaste, TV-stelle, wifi-versenders en wasmasjiene reeds opgepak het weens die hoë elektriese-stroom-spanning asook die krag wat onophoudelik aan en af gaan.
Twee inwoners wat met die koerant gesels het, is ook asma-lyers en kan dikwels nie hul verstuiwer, wat hul bors oophou, gebruik nie, omdat dié apparaat krag benodig.
Volgens die inwoners doen Klapmuts se raadslid, JC Anthony, ook nie genoeg om dié probleem op te los nie, maar hy beweer egter anders. Volgens Anthony woon hy ook in Merchentstraat en word hy ook deur die kragonderbreking benadeel – wat hy telkemale by Eskom aangemeld het.
Paarl Post het na Eskom uitgereik, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.





