Die menseredder Thabang Samson.Foto: Anan Jacobs

Credit: SYSTEM

Die toename in besoekers aan openbare swembaddens tydens die warm somermaande skyn opnuut weer die lig op waterveiligheid en die belangrike rol van menseredders.

Een so ’n menseredder is Thabang Samson, wat in November verlede jaar by Faurestraat se munisipale swembad aangestel is.

Metro EMS (Emergency Medical Service) is ’n diensverskaffer van die munisipaliteit en lei menseredders op.

Volgens Samson moet so iemand 100 meter binne twee minute kan swem om as ’n menseredder te kan kwalifiseer.

“Verdere opleiding word dan deur Metro EMS gedoen, en vakatures vir menseredders word in plaaslike koerante en op die munisipaliteit se webtuiste en aanlyn platforms geadverteer.”

Volgens die Drakenstein-munisipaliteit het menseredders kontrakte met die munisipaliteit onderteken. Dit strek oor ses maande (1 Oktober tot 31 Maart) en hulle moet weeklikse skofte van 40 uur werk.

Die munisipaliteit het menseredders hoofsaaklik nodig om seker te maak dat alle swembad-besoekers hulle in ’n veilige omgewing bevind.

Samson meen om te kan swem, is ’n noodsaaklike lewensvaardigheid.

“Dit gee jou daardie geleentheid om presies te weet wat om te doen as jy jouself in die water bevind.

“Kinders moet leer wat waterbewustheid en waterveiligheid beteken.”

Hy deel die volgende wenke om veiligheid by die swembad te bevorder: . Wees versigtig aan die diep kant van die water. . Stort altyd voordat jy gaan swem, want dit verhoed krampe.. Moet nooit op ’n vol maag gaan swem nie.. As jy onveilig in die water begin voel of paniekerig raak, gil hard. Steek jou hand regop in die lug en waai.

Samson verduidelik dat in ’n geval waar ’n vermiste kind by die munisipale swembad deur menseredders gevind word, sal hy of sy eers probeer om die kind te kalmeer en na ’n veilige plek te neem.

Daarna sal hy of sy inligting probeer kry en die voorval so gou as moontlik by die lynbestuurder of toesighouer aanmeld om die kind met die ouers of voogde te herenig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article