’n 11-jarige meisie van Ronwe Primêr in die Paarl het verlede Vrydag (11 Maart) na bewering haar eie lewe geneem. Sy is die derde leerder in die Paarl wat binne die afgelope drie maande vermoedelik selfdood gepleeg het.
By navraag het kapt. Louise du Plessis, Paarl-polisiewoordvoerder, die kind se dood bevestig.
“Paarl-polisie het op ’n klagte gereageer van ’n 11-jarige wat omstreeks 19:45 dood in haar ouerhuis gevind is. Die omstandighede van haar dood word ondersoek, maar geen misdaad word vermoed nie.”
Op 17 Januarie is ’n 15-jarige leerder van die Hoërskool Noorder-Paarl in Mbekweni dood, net dae voor die 2022-skooljaar sou begin.
Volgens AO Nceba Vanqa, Mbekweni-polisiewoordvoerder, het die oorledene se sibbe op haar afgekom op dié betrokke dag. Sy het nie ’n nota agtergelaat nie.
Die lewelose liggaam van ’n graad 10-leerder van Charleston Hill Sekondêr is op 2 Februarie deur sy ouers ontdek, het kapt. Basil Seekoei, Paarl-Oos-polisiewoordvoerder, gesê.
Seekoei en Vanqa het ook bevestig dat die polisie nie misdaad vermoed in die twee afsonderlike voorvalle nie, en dat geregtelike doodsondersoeke geopen is.
Enigiemand wat geestesgesondheidsondersteuning benodig, kan die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep by 080 012 1314 kontak; of Adcock Ingram se hulplyn vir depressie en angs by 080 070 8090.




