’n Paarlse gesin gaan deur ’n moeilike tyd nadat hul tienerdogter na bewering deur ’n familielid verkrag is.
Die 55-jarige man wat as die verdagte uitgewys is, is verlede Maandag (26 Februarie) in hegtenis geneem.
Die gebeure wat die slagoffer en haar nabye familie getraumatiseer gelaat het, het op ’n plaas in die Paardeberg-gebied gebeur.
Volgens ’n betroubare bron is die tienermeisie swanger gelaat nadat haar stiefoupa haar verkrag het.
“Dis ’n ou ding van die man. Hy het dit baie met kinders gedoen en het net altyd daarmee weggekom, want niemand het nog so ver gegaan as om dit ooit aan te meld nie.”
“Hy betas elke jaar die seisoenwerkers, maar sodra hulle oor hom wil kla, dreig hy hulle en sê hy sal sorg dat hulle hul werk verloor. Die skool het dit aangemeld oor die kind elke dag by die skool siek raak.”
“ ’n Meisie het ’n paar jaar terug by hulle gewoon – ook ’n familiekind. Sy het altyd gesê hy het haar verkrag. Sy is ongelukkig al oorlede, maar sy’t altyd gesê hy het dit gedoen, maar hy’t net altyd daarmee weggekom.”
AO Joseph Swartbooi, ’n Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder, het die man se inhegtenisneming bevestig. Op die vraag oor die beweerde swangerskap van die meisie het Swartbooi dit egter nie ontken of bevestig nie.
Die verdagte het op 28 Februarie die eerste keer in die Paarl-landdroshof verskyn. Hy word aangehou tot sy volgende hofverskyning.
Paarl Post het uitgereik na die familie, maar hulle wil in dié stadium nie praat oor wat gebeur het nie.
Swartbooi doen ’n beroep op enigeen met inligting wat die ondersoek kan help om die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel.





