Leerders in die grondslagfase gaan binnekort meer tyd aan wiskunde en lees in die klaskamer bestee.


Graad 1 tot -3- leerders sal binnekort meer tyd spandeer aan wiskunde en lees.

Dit kom nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) hierdie week gesê het dat die departement tydens die derde en vierde kwartaal aanpassings sal maak om ernstige leer agterstande van leerders in die grondslagfase (graad 1 tot 3) aan te spreek.

Volgens die WKOD is dit graad 1 tot 3 leerders wat die ergste deur die Covid-19-pandemie geraak is, en moet die departement alles moontlik doen om te verseker dat hierdie leerders wanneer hulle in hoër grade is nie benadeel word nie.

David Maynier, LUR vir onderwys, het Dinsdag in ‘n verklaring gesê dat daar ‘n ekstra 2 uur per week aan lees in die klaskamer toegewy sal word en 1 ekstra uur per week aan wiskunde, wat neerkom om ‘n toename van 60 leerure per leerder vir dié vakke vir die res van die jaar.

“Die ingryping sal ander herstelplanne ondersteun wat reeds aan die gang is,” het Maynier gesê.

Maynier sê egter dat die ingryping nie die skooldag sal verleng nie, maar dat die hoeveelheid tyd wat aan lewensvaardigheid in die klas spandeer word aangepas sal word.

“Ons erken die belangrikheid van lewensvaardigheidsonderrig in die ontwikkeling van ons leerders. Dit is dus belangrik dat die oorblywende tyd vir die vak doeltreffend binne die nuwe roosters aangewend word.”

Volgens Maynier het onderwyskundiges die aanpassings aanbeveel asook meer meer ondersteuning vir onderwysers en verbeterde onderrigpraktyke asook die aanmoediging van ouerondersteuning en –betrokkenheid.

“Ons het met vakbondverteenwoordigers, skoolhoofdeverenigings, WKOD-amptenare en senior grondslagfase-onderwysers gesels wat hierdie intervensie ondersteun. Ons besef almal dat ons nie kan bekostig om tot volgende jaar te wag om leerverliese aan te spreek nie. ‘n Notule sal aan skole gestuur word wat uiteensit wat vereis word en voorgestelde roosters sal verskaf word wanneer die intervensie geïmplementeer word. Alle grondslagfase-onderwysers sal op Maandag 25 Julie aan ‘n webinar deelneem om hulle deur die intervensie te neem voordat dit geïmplementeer word.”

Volgens Maynier sal die aanpassings vir die res van die skooljaar gemonitor word en sal ‘n hersieningsverslag opgestel word om die stappe wat die departement in 2023 sal neem aan te dui.

“Skole wat reeds hul eie aanpassings gemaak het om leerverliese in hierdie fase aan te spreek, sal die geleentheid hê om vrystelling van die verandering te versoek, indien hulle kan wys dat hulle die verliese effektief aanspreek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article