Meer reën vir Juliemaand voorspel wat verligting sal bring vir vrugteboere

No caption found


Vanjaar se winter het laat kop uitgesteek, maar is hopelik amper in volle gang. Die reën is minder en die temperature warmer, maar wat veroorsaak dit en hoe affekteer dit die landboubedryf, en veral vrugteboere?

Volgens Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte, asook woordvoerder van Agri Wes-Kaap, is dit waarskynlik weens die El Niño-weerpatroon wat tans oor Suid-Afrika gevorm het.

El Niño beteken klein seuntjie in Spaans en word afgewissel deur La Nin~a (klein dogtertjie) wat koeler en natter weer vir Suid-Afrika na vore bring.

Gedurende verlede jaar se winter het Suid-Afrika ’n La Nin~a ervaar, wat ’n rekordgetal reën en koue toestande gebring het.

Volgens Drakenstein-munisipaliteit se reënvalsyfer vir die afgelope 100 jaar sedert 1924 het die Paarl 340 mm reën in Junie 2023 ervaar, en slegs 112 mm tydens Junie vanjaar. Dit is dus ’n drastiese afname wat toegeskryf kan word aan die El Niño-weerpatroon.

Volgens die Stad Kaapstad se weeklikse watermeting wat die damme se kapasiteit meet, is die Bergrivier dam 87,8% vol teenoor Junie 2023 se 100,9%.

Die Wemmershoekdam is 74,6% vol, waar dit verlede jaar hierdie tyd 100% vol was, en die Voëlvleidam is 59,2% vol teenoor Junie 2023 se 67,5%.

Volgens De Wet is dié skrapse reënval en warmer temperature nadelig vir veral vrugteboere omdat vrugtebome juis kouer weer nodig het om vrugte te produseer.

Volgens ’n Daily Maverick-artikel wat op 9 Mei aanlyn gepubliseer is, bring die El Niño weerpatroon “droogte na Suider-Afrika”, soos in Junie ervaar is.

“Versengende hittegolwe het Suid-Afrika se graangordel verskroei, met die oes van die stapelwitmielies 25% laer in 2024 vergeleke met verlede jaar. Suid-Afrikaanse boere se voornemens om winterkoring te plant, is 3% laer vergeleke met die grootte van die oppervlakte wat verlede jaar aan die gewas gewy is,” lui die artikel.

“Vrugtebome het koue-eenhede nodig om in rus te gaan en vir blom en vrugset in die volgende seisoen, daarom is dit belangrik dat ons [die Wes-Kaap se] vrugtestreke genoegsame koue dae en nagte het.” sê De Wet.

“Die effens[e] laat winter behoort tans nog nie te veel negatief te impakteer op produksie nie. Vrugte areas maak van besproeiing gebruik en is daar tans nie sprake van waterbeperkings nie.

“Winterreën is egter van uiterse belang om ons [die Wes-Kaap se] groter opgaardamme vol te kry vir die somermaande.”

Volgens William Bourbon-Leftley, wat ’n vrugteplaas in Wemmershoek besit, is koue weer van kardinale belang.

“Ons [vrugteboere] benodig koue-ure sodat [die vrugte-] bome kan rus.”

Ons het nog nie veel koue geakkumuleer nie, [en] dit beïnvloed onegalige bottoestande, so bome blom deurmekaar, dan is die kans vir gemiddelde tot goeie oeste baie laag.
William Bourbon-Leftley

“Ons het nog nie veel koue geakkumuleer nie, [en] dit beïnvloed onegalige bottoestande, so bome blom deurmekaar, dan is die kans vir gemiddelde tot goeie oeste baie laag,” sê Bourbon-Leftley.

Nietemin is die klein seuntjie (El Niño) weer oppad uit, met La Nin~a wat binnekort oor Suid-Afrika verwag word en moontlik die winter sal aanhelp, asook ’n natter somer sal verseker.

Dít is volgens ’n aanlyn nuusberig van die Landbouweekblad wat op 2 Julie gepubliseer is.

“Volgens die jongste voorspellings kan redelike sterk frontale stelsels veral die eerste twee weke van Julie gemiddelde, tot selfs bogemiddelde reënval oor die grootste dele van die winterreëngebied veroorsaak,” luidens die artikel.

“Meer as 80 mm kan in die Kaapse Wynland voorkom op plekke soos die Paarl, Stellenbosch en Worcester, asook die Kaapse metropool. Swaar neerslae is veral teen 3 Julie en van 6 tot 8 Julie moontlik, met die gevaar van oorstromings en vloedtoestande.” 

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article