Cleo George is nie net een van New Orleans Sekondêr se topmatrikulante nie, sy het ook op provinsiale vlak onder die matrikulante van 2022 baie goed gevaar.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het verlede Donderdag (2 Februarie) die provinsiale seniorsertifikaat-toekenningseremonie vir verlede jaar se topmatrikulante by Leeuwenhof in Kaapstad aangebied. Dit is die woning van premier Alan Winde.

By hierdie seremonie is Cleo vereer as een van 40 kandidate in die Wes-Kaap wat goeie punte gekry het in ses van haar beste vakke. Sy sê die vakke sluit in Engels, Afrikaans, wiskunde, rekeningkunde, lewenswetenskap, fisiese wetenskap en lewensoriëntering.

“Dit voel baie goed om te weet dat ek onder die top-40-leerders is. Veral met die wete dat al die werk wat ek ingesit het en die gebrek aan slaap tydens eksamentye, vrugte afgewerp het.”

Volgens Cleo het sy nie verwag om so goed te vaar nie. Sy was veral baie bekommerd oor hoe haar wiskunde-uitslae sou lyk, en was bang dat sy nie sou inkom by die universiteitsprogram waarvoor sy aansoek gedoen het nie.

Oor wat haar geheim is om sulke goeie punte te behaal, sê Cleo dat sy eintlik nie ’n geheim het nie.

“Ek was nie ’n konsekwente A-kandidaat-student wat ’n roetine gehad het en vroegoggend wakker geword het om te studeer nie. Die dryfkrag om goeie punte te behaal het meesal geweldig gehelp. Om in die klas te luister, asook om programme buite die skool vir wiskunde en fisiese wetenskap te hê, het baie gehelp.

“Studente hoef nie elke dag vir lang ure te studeer nie – om ’n pouse te neem is baie belangrik. Geestes­gesondheid is ook baie belangrik en dra by tot jou vermoë om te studeer.”

Cleo het reeds begin as eerstejaarstu­dent by die Universiteit Stellenbosch waar sy BSc in menslike lewensweten­skap studeer.

Kenneth Janson van die Hoër Jongenskool Paarl is weer vereer as een van die top-kandidate. Hy het nasionaal en provinsiaal die derde plek verower.

Die Hoër Meisieskool La Rochelle en Hoër Meisieskool Paarl is onder die top-20-skole in die provinsie met meer as 80 kandidate wat die nasionale seniorser­tifikaateksamen geskryf en uitstekende akademiese uitslae gekry het. HMS Paarl staan agste en La Rochelle staan in die twaalfde plek.

Corné de Jonge van Hugenote Hoërskool in Wellington het die hoogste punte gekry in rekeningkunde. Hy het ’n sertifikaat en R6 000 vir sy prestasie ontvang.

  • Cleo George is not only one of New Orleans Secondary’s top matriculants, she also did very well at provincial level among the matriculants of 2022.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article