Die nasionale departement van onderwys se pogings om nie die 2021- matriekuitslae in die media te laat publiseer nie, het misluk.
AfriForum en Maroela Media het die departement in ’n dringende hofaansoek voor die Pretoriase hooggeregshof gedaag nadat die departement op 10 Januarie aangekondig het dat hy ingevolge die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) besluit het die matriekuitslae mag nie gepubliseer word nie.
Die saak het Dinsdagoggend voorgekom en regter Anthony Millar het in AfriForum en Maroela Media se guns beslis.
Intussen is private skole se matriekresultate reeds gister bekend gemaak. Bridge House School het gister op sosiale media gespog met die goeie uitslae van die klas van 2021. Sewe matrikulante van dié skool is ingesluit onder die top-1%-leerders van die onafhanklike eksamenraad se nasionale vakke. Dit sluit in Afrikaans, Engels, Duits en geskiedenis.




