Ná hul oortuigende vierpaaltjie-oorwinning oor Paarl-krieketklub op die Parysveld verlede Saterdag is die Maties nou die gunsteling om die Bolandse Premierliga-titel te herwin. Hulle is in ’n sterk posisie, ten spyte van hul nederlaag teen Van der Stel in hul eerste wedstryd, danksy vyf agtereenvolgende bonuspunte.

Die tuisspan het afgeskop met ’n aanvangsvennootskap van 41 lopies deur Darryl Hendricks (31, 5×4, 1×6) en Robin Andrews, maar daarna lelik in duie gestort teen die akkurate boulwerk van Ethan Cunningham (6-0-20-3). Aqeeb Douman (17) en Morne de Vries (16 n.u.n.) het moedig probeer, maar Nic Keevy (4-1-8-1), Lehan Botha (5-3-7-1) en Arnaud du Plessis (6.5-1-32-3) het die druk volgehou en gesorg dat Paarl uitgeknikker word vir hul laagste telling in die kompetisie (105).

Cunningham (23, 2×4, 2×6) en Fritz de Beer (29, 4×4) het min respek getoon teen die nuwe bal met ’n vennootskap van 40 lopies, totdat Paarl se kaptein, Waylain September (4-1-16-4), met sy linkerhandse draaiboulwerk ingetree het.

Hendricks het die vonk verskaf met ’n briljante vangskoot in die glippe om van Riaz Paleker ontslae te raak en, met die studente skielik op 5/65, het die hoop vir Paarlse toeskouers opgevlam.

Die warrelwindbeurt deur Christiaan Oberholzer (28 in 17 balle, 4×4, 1×6), het egter verseker dat die besoekers (106/6) maklik wen. Grant Chordnum (1/35) en Byron Cook (1/31) het die res van die Maties se paaltjies inge-oes.

Eerskomende Saterdag speel Paarl weg teen Van der Stel, terwyl Paarl II op die Parysveld kragte meet teen Van der Stel II.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article