Sondagaand, ure ná die voorval in Huis Marias, kry ek ’n boodskap. Dit bevat ’n lywige en ferm bewoorde mediaverklaring, en daarmee saam ’n video.
’n Student het op ’n mede-student se lessenaar geürineer; sy boeke en rekenaar daarmee heen.
’n “Rassistiese aanval,” lui die verklaring van Sasco, ’n studente-organisasie verbonde aan die ANC. Is dit ’n rassistiese aanval of bloot ’n student wat dik gesuip was en sy urine oor iemand se besittings laat vloei het?
Dit was die eerste vraag in my kop. Was Theuns du Toit rassisties of wat de hel het hom besiel? Wat was sy bedoelinge?
Ek het die video seker eers tien keer oor en oor gekyk: Die waterafslanery was verkeerd, belaglik, onsensitief, onmenslik, onsmaaklik, diskriminerend en afbrekend. Geen mens verdien om wakker te skrik van dié soort gedoente nie. Daarom was ek uiters geskok, teleurgesteld en bekommerd.
Die kultuur in manskoshuise is toksies. Ek dink daar is een massiewe probleem in koshuise – veral manskoshuise – waar manstudente aanhoudend probeer om hul manlikheid te toon. Gewoonlik is drank in die middelpunt van hierdie demonstrasie. As jy tien biere kan sluk sonder om te hik, dan behoort jy. As jy gesuip is en kaalgat deur die strate van Stellenbosch hardloop, dan behoort jy.
As jy ’n paar padtekens kan ontwortel en steel, waarvoor die munisipaliteit miljoene rande betaal, dan behoort jy.
Wanneer jy en ’n paar ander stupid pelle kaalgat voor vrouekoshuise gaan pronk, dan behoort jy. Indien nie is jy een vervelige mofgat.
Daar is ’n patetiese kultuur oor die algemeen in manskoshuise, wat eens en vir altyd tot ’n einde moet kom. Ongelukkig word dié soort kultuur voorbehou deur die leierskap in hierdie soort koshuise.
Was Theuns se dronkenskap deel van hierdie tipe kultuur? Ja.
Rassisties?
Was dit rassisties? Dit was steeds die laaste vraag in my kop. Wanneer noem ’n mens iets rassisties? Kies ek kant om dit nie as rassisties te brandmerk nie? Nee. Ek dink dis belangrik om eers feite agtermekaar te hê voordat ’n mens dié uitlatings maak. ’n Mens weet nie wat sy bedoeling was nie, maar indien dit die bedoeling was, is hy ’n rassis.
Dit was nogal onsmaaklik om te sien hoe verskeie studente, studenteleiers ensovoorts begin verklarings maak en dit as rassisties verklaar – dít natuurlik alles gedrewe ná Sasco se verklaring. Skielik was almal geneig om daarmee saam te stem.
Dié wat eerder – soos ek – verkies om vir meer bewyse te wag, word toe skielik beskou as die beskermers van Theuns en White Supremacy in die algemeen. What a low blow, sou ek sê.
Die rede hoekom ek besluit het om op meer feite te wag: 1. In Sasco se eerste verklaring meen hulle Du Toit het gesê “this is what we do to black boys”. In hul memorandum aan die US ’n paar dae daarna, sê Sasco Du Toit het gesê “this is what white boys do”.
Terselfdertyd het die slagoffer openlik in ’n eNCA-onderhoud aangevoer dat dié geval “nié” rasgedrewe was nie.
Dít laat ’n mens natuurlik met baie verwarring. Dus, mense kan my maar kap soveel as wat hulle wil. Ek staan by my punt – laat die US toe om die saak deeglik te ondersoek. Indien dit wel rassisme was, moet Du Toit sy alie sien.
Rassisme het geen plek in ons samelewing nie, en veral nie by ’n instelling soos ’n universiteit waar sosiale kohesie behoort te floreer nie.
Verkragting by Majuba
Die vermeende verkragting is ook iets wat my verskriklik ontstel. En weer eens kan ’n mens dit terugbring na die kultuur in manskoshuise. Dis mos ’n prestasie om met ’n klomp vroue seks te hê. Maar om jou penis uit te ruk en dit op en in iemand anders te dwing, is siek en uiters vieslik.
Ek is persoonlik disgusted dat hy (die manstudent) op borgtog van R1 000 vrygelaat is. Wat de hel? Waar is die beskerming teen ons vroue? Waar is die reg en geregtigheid?
Uitgeput
Dit was een verskriklike lang week op Stellenbosch. Ek is moeg, en baie ander studente ook. Ons is ontsteld en uitgeput. Ons eis geregtigheid en regverdigheid vir alles wat die afgelope week geskied het.
Terselfdertyd is ons geestesgesondheid in sy tjops, dus het die US die regte ding gedoen om eksamens met ’n week uit te stel. Ons het nou tyd nodig om alles wat die afgelope week op kampus gebeur het, te verwerk.
Die betogings
Betogings het nie juis ’n uitwerking op die uitkoms van tugverhore nie, en moet ook nie hê nie. Maar nou is ruimte geskep vir debat, waar ons openlik met mekaar kan gesels oor wat ons dink op kampus verkeerd is en hoe ons saam aan die probleme kan werk om te verseker die US is vir almal.
Sonke siya phambili. Forward together. Saam vorentoe.




